Stralend selfversekerd.
Dit is blykbaar die eienskap wat die natuurlike skoonheid van twee aspirantmodelle, Naveen Wewers en Yasmin Mugisha, vier.
Die 15-jarige vriendinne deel die begeerte om eendag ’n professionele model te wees en is albei gekies om die loopplank in ’n nasionale skoonheidskompetisie aan te durf. Maar die gr. 9-leerders aan die Hoërskool Hottentots-Holland benodig die ondersteuning van die gemeenskap om die kompetisie wat hulle een tree nader aan hul droom sal bring, te verwesenlik.
Beide Naveen en Yasmin is uitgenooi om deel te neem aan Ace Models se Nasionale Konferensie wat van Vrydag 5 tot Maandag 8 Augustus in Roodevallei, Pretoria, plaasvind. Die drie dae lange geleentheid bied die twee studente aan die nasionale model-akademie se Durbanville-tak die geleentheid van ’n besondere leerervaring waartydens hulle onder meer as 500 modelle van die 25 Ace-franchises sal spog met die vaardighede wat hulle in die kursus geslyp het.
Naveen vertel dat sy slegs 10 jaar oud was toe sy haar passie vir die eerste keer uitgeleef het as deelnemer aan ’n skoonheidskompetisie wat deur haar alma mater, Somerset-Wes Primêre Skool, gereël is. Haar pa, Gilbert, het haar vinnig in die rede geval en verder vertel dat sy al van kindsbeen haar lyf model gehou het. “Haar oorlede ma het altyd vir my gesê, ‘Kyk die kind, sy wil net daai model wees! Sy gaan eendag model, sien jy’,” het hy laggend aangevoer.
Hoewel kompetisiedeelname dikwels vir die Macassar-tiener niks behalwe nodige ervaring ingehou het nie, het sy wel eerste plek as Mej. Fotogenies in die 2018 Mej. Macassar-skoonheidskompetisie behaal. Hierna het die ywerige skoonheidskoningin allerhande titels ingeryg, onder meer Mej. Persoonlikheid by die 2019 Mej. Macassar-skoonheidskompetisie en tweede prinses by die 2022 Mej. Sunshine-skoonheidskompetisie wat in Strand aangebied is.
Yasmin het as ’n 13-jarige besluit sy wil ’n model wees en is aangespoor deur ander wat geglo het dat sy al die eienskappe het om ’n skoonheidsukses te wees. Die Strand-tiener het nadat sy gehoor het van die Mej. Valentine-skoonheidskompetisie in 2020 daarvoor ingeskryf. Lekker nat agter die ore en sonder die ondersteuning van familie – wat toe heeltemal onbewus was van die uitdaging – het sy aan die kompetisie deelgeneem.
“Ek het niks behalwe ervaring opgedoen nie, waarvoor ek baie bly is,” vertel Yasmin, wat met die geloof van wat in haar steek, gemotiveerd aangehou het.
Danksy die gogga wat gebyt het, het Yasmin daardie jaar nog by Helderberg Modelling Studio ingeskryf om ervaring op te doen. Om haar ervaring en kennis te verbreed en haar ’n beter kans teen ander teenstanders te bied, het sy vanjaar ook by Ace Models aangesluit.
Hierdie model-akademie streef daarna om aspirantmodelle toe te rus met die regte gereedskap en vaardighede om die beste weergawe van hulself te word en suksesvolle jong individue te skep. Die akademie se grootste suksesverhale sluit onder andere in Demi-Leigh Nel-Peters, die voormalige Mej. SA en Mej. Heelal.
Yasmin spog met die volgende prestasies: eerste prinses by 2021 Mej. Outisme verlede Augustus; Mej. Wes-Kaap-ouderdomskategorie- wenner (14-15) by die Toddler & Tween-skoonheidskompetisie in Klerksdorp en deelname aan die Mej. Junior Suid-Afrika-kompetisie in Johannesburg verlede Oktober; eerste prinses by 2022 Mej. Valentyn in Februarie, en tweede prinses by Mej. Grand Beauty en derde prinses by Mej. Snow Queen in Mei.
Yasmin het verskeie titels by April se 2022 Pageant Festival in Johannesburg ingeryg, insluitend Ultimate Beauty-wenner, Royal Beauty SA, Jewel of SA en National Beauty of SA tweede prinses, en Global Beauty SA-wenner.
Die talentvolle model is ook in Junie gekroon as wenner van die Mej. Chrystal Diva-skoonheidskompetisie.
Dié twee modelle het saam aan Ace Models se modevertoning, Hot Heels, deelgeneem en in uitrustings wat hulle self ontwerp en van herwinbare materiaal gemaak het, op die loopplank uitgeblink. Naveen en Yasmin was ook kaatjies van die baan in uitrustings van Kevin Ellis, ’n bekroonde ontwerper, danser en choreograaf.
Die tieners het ook ’n eksamen afgelê wat bestaan het uit fotosessies, die beoordeling van hul loopplank-styl en spot-vraesessies op die verhoog.
Naveen sowel as Yasmin se modedroom is gekoppel aan die vurige behoefte om ’n verskil te maak.
“Die loopplank bied soveel meer as net modevertonings; dit bied ons ’n stem om met ander oor dinge wat saak maak te kan praat,” het Naveen aangevoer.
- Enigiemand wat ondersteuning wil bied aan die hierdie twee ambisieuse jong meisies kan e-pos stuur aan Gilbert Wewers by gilbert.wewers@rawson.co.za.




