’n Groep leerders en twee onderwysers van Hoërskool Strand vandag na België as deel van dié skool se kulturele uitreikprogram met die Burgerskool in Roeselare.
Vanjaar se program is reeds die 20ste jaar wat die Arende deel is van dié kulturele uitreik, wat van vandag (17 Maart) tot Maandag 4 April plaasvind. Dit bied 12 gr.10-leerders elke jaar die geleentheid om hul horisonne te verbreed en vriendskappe oor vastelande heen te smee.
Die laaste twee jaar kon die 2020- en 2021-groep weens die Covid-19-pandemie nie hierdie droom verwesenlik nie. Vanjaar se groep het Maandag 17 Januarie die groenlig gekry om na België te reis.
Die twee onderwysers wat hulle sal vergesel, is Lynette Wolff en Juliana Louw.
Die groep begin hul oorsese reis met ’n besoek van twee weke in België, waar die Belge hulle met ’n ongelooflike program inwag.
Hulle gaan Antwerpen, Brussels, Brugge, Ghent, Ieper, Leuven en baie ander besienswaardighede in België besoek. Hulle sal ook drie dae in Parys, Frankryk, deurbring, waar hulle die stad en Euro-Disney sal verken.
Die groep gaan ook ’n Franse skool besoek en ’n stukkie van Suid-Afrika met hulle deel.
Die leerders sal die volle Belge-ervaring geniet, aangesien hulle by Belge sal tuisgaan en leef en eet en ervaar wat Belge as alledaags beskou.



