Francina Lukas is onlangs opgeroep om as voorsitter in die GPF se provinsiale raad te dien. Foto: Rick Marais


Die voorsitter van Strand se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) spog met die geleentheid om die gemeenskap op ’n hoër vlak te dien.

Francina Lukas, oftewel “Antie Tannas”, is opgewonde oor die uitdaging nadat sy opgeroep is om as voorsitter op die GPF se provinsiale raad te dien.

“Dié raad dien oor 16 polisieklusters en ses distrikte. Ons is nes die GPF die tussenganger tussen die polisie en die gemeenskap. Dis ons werk om toe te sien dat probleme soos bendes en smokkelhuise aangepak word,” sê dié die 49-jarige inwoner van Sercorpark.

Lukas dien al die afgelope 20 jaar as lid van die plaaslike GPF. Sy het destyds as ondervoorsitter aangesluit en haar opgewerk tot haar huidige posisie as voorsitter van die Strand-GPF.

“Ek het my gemeenskap te voet gepatrolleer. Ek is deel van die gemeenskap en weet presies wat alles hier aangaan, en dis waarom ek my werk so goed in die GPF kon doen.”

Lukas, wat soos soveel ander ook haar eie kind weens misdaad aan die dood afgestaan het, besef watter impak misdaad op die samelewing het.

“Ek wil nie toekyk hoe my gemeenskap in vrees lewe nie. Dis waarom ek wil fokus op gehaltedienslewering by die polisie. Ek wil toesien dat al die probleme aangepak word sodat oplossings gevind kan word.”

Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, sê Lukas is verlede jaar vir die amp van voorsitter verkies.

“Francina het verskeie intervensies uitgevoer om te verseker dat die Strand-GPF goed met die polisie saamwerk. Haar unieke leierseienskappe het baie daartoe bygedra om polisiëring weer op dreef te kry saam met die polisie, wetstoepassers asook die breë gemeenskap. Sy het almal gekry om saam te werk om misdaad meer doeltreffend te bekamp,” sê Thysen.

Lukas beklemtoon hoe belangrik die GPF in hul gemeenskappe is. “Die GPF vervul ’n groot rol, want ons is juis daar om na die gemeenskap te luister, en ons kan dan gaan sit en met die polisie praat om ’n middeweg en oplossings te vind.”

Volgens die provinsiale GPF se mandaat moet Lukas nou die skoene, wat sy as Strand GPF-voorsitter volgestaan het, vir eers uittrek om volle aandag aan haar nuwe rol te skenk. Thysen wens Lukas namens die GPF sterkte toe. . Die Strand-GPF werk aan ’n proses om ’n nuwe voorsitter aan te stel.

“Die Strand-GPF moet binne 21 dae ’n vergadering hou waar die nuwe voorsitter en ondervoorsitter verkies sal word,” voeg Thysen by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article