’n Sekretaris van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het verlede week aangekondig dat hy summier uit sy pos by die GPF bedank het.
Brendyn Alloys (38), wat sedert Augustus 2021 in die Strand se GPF gedien het, het besluit om die GPF te verlaat omdat hy glo die forum werk in “silo’s” en volg nie daadwerklik op oor aksieplanne vir die gemeenskap en misdaad nie.
“Dit is myns insiens vir my die beste besluit om uit die GPF te bedank sodat ek my volle aandag aan ander gemeenskapsprojekte met die fokus op misdaad- en geweldvoorkoming kan gee,” sê Alloys.
Volgens hom het die gemeenskapsveiligheidsplan, wat aan die begin van die jaar deur die GPF ná die gemeenskapsveiligheidsplan-werksessie aangekondig is, geen resultate opgelewer nie.
Die Strand GPF het in Februarie aangekondig hy is aan die gang met ’n hernude fokus op misdaadbekamping, wat ’n voorgestelde veiligheidsplan vir die hele Strand insluit (“GPF sê oor plan teen misdaad,” DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 1 Februarie).
Volgens hom het die GPF tans niks gereed vir Kinderbeskermingsweek nie, hoewel gemeenskappe in die Strand swaar gebuk gaan onder geweld teen kinders en vroue.
“Ons GPF het dit nog nie geprioritiseer nie, en dié soort geweld word gereeld in ons gemeenskappe aangemeld.”
Hy het ook uitgebrei en beweer die GPF werk in [afsonderlike] silo’s en nie saam as ’n geheel nie.
Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand GPF, sê Alloys se bedanking word nog swaar deur die GPF verwerk. “Hy was ons anker. Sy bedanking laat ’n groot leemte. Ons het probeer uitreik na hom; ons wou die proses bemiddel. Ons gaan steeds in die toekoms saam met hom by Badisa werk,” sê Thysen.
Hy sê die GPF het daadwerklik probeer om die sosiaal-ekonomiese probleme in Strand te takel en voeg by die gemeenskapsveiligheidsplan kry wel die nodige aandag.
Francina Lukas, die voorsitter van die GPF se provinsiale raad, het bevestig dat Alloys ’n belowende jongman met groot ywer is.
“Sy bedanking is ’n verlies vir die GPF-familie. Ons wens hom alle sterkte vir die toekoms toe.”
Alloys het die Strand GPF bedank vir die geleentheid wat hy gehad het om die gemeenskap te dien. “Ek het baie by almal geleer, en daarvoor is ek almal ewig dankbaar.”



