Die All Saints-rugbyklub, wat aanstaande jaar in die Superliga C van die Westelike Provinsie-rugbyunie sal speel, is op soek na afrigters vir sy vier spanne vir die 2025-seisoen.
Die klub met sy speelvelde by die Helderzicht-sportterrein op die hoek van De Beers-laan en die N2-snelweg, se doelwit vir volgende jaar is om promosie tot Superliga B te wen. Die klub het drie senior spanne en een o.20-span.
Kandidate wat om die beskikbare afrigtingsposte aansoek doen, moet ’n liefde vir rugby, asook die vermoë om te leer, hê. Hulle moet ook die relevante afrigtingskwalifikasies hê, asook ’n deeglike begrip van rugby, vorige ervaring as ’n afrigter en die vermoë om beginsels soos dissipline, werksetiek, en trots nougeset toe te pas.
Kandidate moet ook tweetalig (Afrikaans en Engels) wees, goeie beplanning kan doen en toepas en met gemak in ’n afrigtingspan kan werk. Hulle moet ook ’n leerbare ingesteldheid en positiewe houding hê.
. Diegene wat wil aansoek doen, moet hul CV’s voor of op Maandag 30 September per e-pos aan Sylvia Wildschut by allsaintsrfca@gmail.com stuur. Alle nadere navrae kan aan Wildschut by 082 908 2407 gerig word.



