Die Helderberg-gemeenskap betreur die skokkende verlies van die geliefde Aleit Swanepoel, ’n inwoner van Somerset-Wes, televisiepersoonlikheid en sakeman.

Die toonaangewende trou- en geleentheidsbeplanner en ster van die gewilde kykNET-kletsprogram Tyd Met Aleit is na verneem word Sondagaand oorlede. Nuus van Swanepoel se skielike en ontydige heengaan het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

“Dit is met groot hartseer dat ons jou in kennis stel van die afsterwe van ons stigter, Aleit Swanepoel. Aleit is in sy slaap oorlede, en hoewel geen verdere inligting op hierdie oomblik gedeel kan word nie, vra ons dat julle sy familie in jul gedagtes sal hou terwyl hulle deur hierdie moeilike tyd gaan,” het die Aleit-groep, waarvan Swanepoel die stigter en voorsitter was, Maandag in ’n persverklaring gesê.

Die trou- en geleentheidkoördinerings­maatskappy het Swanepoel verder beskryf as ’n “innoveerder, perfeksionis en kreatiewe genie” wie se flambojante persoonlikheid en toewyding baie gemis sal word. “Ons sal voortgaan om sy groot nalatenskap deur alle Aleit-ondernemings en -entiteite te handhaaf en te koester.”

Waldimar Pelser, M-Net se direkteur vir kykNET-kanale, het by navraag gesê: “Die kykNET-span het [Mandagoggend] met skok verneem van die dood van Aleit Swanepoel, wat ’n gewilde aanbieder onder ons kykers was. Sy onblusbare energie en passie het almal wat hom geken het, geraak. Ons dink aan sy familie, vriende en kollegas.”

Gerard Scholtz, aanbieder van DeKAT TV, het die volgende geskryf: “Aleit was goed vir ons. Ek het hom elke jaar met die Woordfees gebel en gevra om die DeKAT-skrywersitkamer in te klee. As ek weer sien, word meubels afgelaai – sonder om ’n sent te betaal. Ek moes eenkeer ’n funksie reël. Hy vra my toe wat die tema is. Toe kom vragmotors vol takke met lentebloeisels aan vir die vatkelder van Hermanuspietersfontein. Met die bekendstelling van my bundel verlede jaar het sy personeel die aand gereël. DeKAT het hom op die map geplaas. Ek onthou sy oudisie en sy eerste shoot soos gister. Ek moet nou lag, maar hy was meer bekommerd oor sy grimering as oor die shoot self. Ek moes ook eenkeer hard met hom praat, toe huil hy sy maskara af en moes ons inderhaas in die Mount Nelson-hotel ’n kamer vir hom kry om op te touch, want hy was ’n bliksem as dit by detail kom. So spoel al die goeie tye met hom vandag oor my.”

Huldeblyke het ná die nuus op sosiale media ingestroom en boodskappe van medelye en terugblikke van soete herinneringe van Swanepoel is deur bekendes asook aanhangers en Helderbergers, wat die man met die hartverwarmende en kenmerkend breë glimlag geken het, gedeel.

Tracey Lange, ’n mede-Helderberger, televisiepersoonlikheid en radio-omroeper, het in die lig van die tragiese verlies op Facebook gedeel: “Ai, liewe Aleit, ek kan dit nie glo nie. Altyd met ’n glimlag en altyd vol warmte. Mag jy rus in vrede, met die grootste smile.”

Die plaaslike radiostasie Helderberg 93.6 FM se inskrywing het gelui: “Dit is met groot hartseer en skok dat ons verneem het van die skielike heengaan van Aleit Swanepoel. Aleit het vir ’n kort tydperk in 2019 die middagritprogram saam met Anele du Plessis aangebied en hy was deel van die Helderberg FM-familie. Hy sal onthou word vir sy humor, kenmerkende lag en bydrae tot ons radiostasie. Namens die hoofbestuurder, Cathy Retief-Neil, personeel en die bestuur van Helderberg FM betuig ons ons meegevoel aan sy familie en hou hulle in ons gebede.”

Swanepoel word oorleef deur sy tienerdogter, Kateline.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article