“Ons het elkeen ons eie pad wat ons loop, en niemand weet van alles wat padlangs op die lewensreis gebeur nie. Wees bewus van die mense om jou, en as jy kan, probeer help. Jy kry soveel meer deur te gee as om te ontvang.”
Givers gain is die boodskap wat ’n plaaslike veteraan-hardloper met sy pelgrimstog van hoop ten bate van behoeftige bejaardes uitstuur.
Die Strand-inwoner Christo van den Berg sal van Saterdag 1 tot Saterdag 8 Oktober manalleen agt marathonne in agt dae van Ashton tot Clanwilliam voltooi om in samewerking met Solidariteit Helpende Hand kwesbare oumense te help.
Die veeleisende uitdaging spruit uit die sukses van Christo se eerste pelgrimstog onder die vaandel van “Run for Hope”, wat die atleet begin het om hom die terugslag van beserings aan beide van sy knieë te help trotseer.
Met die vraag van hoe alles begin het, het Christo vertel: “Ons het in September 2020 by vriende gekuier en lekker oor staproetes gesels. Hulle het toe genoem van die Camino de Santiago en hoe dit ’n bucket list-item is. Dis ongelukkig baie duur, maar daar is ’n alternatief – die Pelgrimstog van Hoop, wat van Stellenbosch tot in L’Agulhas strek. Ná twee weke van herkou aan die roete, het ek een aand ná ’n draffie aan my vrou, Hetta, genoem dat ons die uitdaging moet aanpak. Ja, ons – ek hardloop en sy ondersteun my met ’n voertuig. In plaas daarvan om 16 dae te stap, sal ek dit in agt dae hardloop, en ons kan dan so bewusmaking skep oor die nood wat in ons samelewing is – veral in gebiede waar die regering nie werk nie.”
Christo vertel voorts dat hy toe met die betrokke gemeenskapsorganisasie, wat sowat 100 m van sy tuiste af ’n skooltjie bestuur, saamgespan het vir geldinsameling om klein honger magies te voed. Solidariteit Helpende Hand se missie is om maatskaplik gebaseerde gemeenskapsontwikkeling deur volhoubare ontwikkelingsprogramme en -projekte, opleiding, netwerkvorming en hulpbron- ontginning te bevorder. In 2021 was Run for Hope bevoorreg om R77 000 in te samel, wat ingespan is om ’n maaltyd per dag vir 365 dae aan ses kinders te bied.
Hoewel vanjaar se uithou-en-aanhou-wedloop dieselfde afstand behels, pronk dit met ’n ander roete. Die roete begin in Ashton en strek oor 360 km en nege bergpasse, met die eindstreep in Clanwilliam.
“Die streke waardeur ek vanjaar hardloop, is ongelooflik mooi, maar vir die mense wat daar woon en veral boer, is dit moeilik. As jy met die ou boere van die streek gesels, kom jy dadelik agter hulle is ’n spesiale taai – weer eens die swaarkry van ’n pelgrim. So, die roete is langer en die klim / elevasie is ook groter (ongeveer 6 000 m+) as verlede jaar,” brei Christo uit.
Voor sy pelgrimstog verlede jaar was die verste wat hy op ’n keer gehardloop het, net 30 km. In 2021 het hy sy eerste 42,2 km-marathon asook sy eerste ultra-wedloop gehardloop. Die voorbereiding – veral vir die uitdaging wat voorlê – is lank, meen Christo.
“Verlede jaar het ek twee weke ‘af’ gekry ná Run for Hope en op 1 November weer begin oefen. My afrigter, Cobus, gee weekliks vir my ’n oefenprogram en maak seker dat ek nie kop verloor nie. Ek doen een keer per week pilates en dan hardloop ek so ’n paar wedrenne en uitdagings gedurende die jaar. My volgende is die Voet van Afrika-wedloop, wat ek al van skool af wou baasraak.”
Christo het sy atletiekloopbaan op skool begin en in standerd 7 (gr. 9) rugby gelos om sy passie vir hardloop as ’n “gemiddelde presteerder” uit te leef. Ná skool het hy met vlugbal in aanraking gekom en ongeveer agt jaar gespeel. Weens beserings wat hy in hierdie tyd opgedoen het, kon hy vir byna 15 jaar nie hardloop nie. Hy het weer begin hardloop toe sy dogter in laerskool atletiek as sport opgeneem het. “Ná baie pyn, pille en harde werk kan ek sewe jaar later weer een van my passies uitleef. Nou hardloop ek so gereeld moontlik, amper sewe dae ’n week,” voer hy laggend aan.
Vanjaar se uitdaging is vir hom veral belangrik omdat “daar soveel versteekte bejaardes – omies en tannies – is wat êrens in ’n hokkie agter ’n huis of tuin weggesteek sit en nie meer vir hulself kan werk of baklei nie. Ons wil hulle help om net ’n bietjie menswaardigheid terug te kry,” verduidelik Christo.
“Ons het soveel swaarkry in ons gemeenskap en die inperking het dit baie vererger. Ons sien dit elke dag. Dit is maklik om daaroor te praat – lip service te gee – maar wat doen ons daadwerklik? Met die vermoë om te hardloop, wil ek ander bewus maak dat elkeen sy of haar talente kan gebruik om ander te help of ondersteun.”
- Christo verwelkom enige finansiële ondersteuning in die vorm van skenkings.
- Borge en belangstellendes kan die webtuiste runforhope.co.za/RFH-Support-Us besoek vir meer besonderhede.
Die roete begin in Ashton en strek oor 360 km en nege bergpasse voordat dit agt dae later in Clanwilliam eindig.
Dag 1 – Ashton tot Arangies
Afstand: 49 km
Passe: Kogmanskloof- en Burgerspas, Arangieskop
Dag 2 – Arangies tot N1
Afstand: 51 km
Alghehele afstand afgelê: 100 km
Passe: Rooihoogte
Dag 3– N1 tot Bo-Swaarmoed
Afstand: 44 km
Algehele afstand afgelê: 144 km
Passe: Die Venster
Dag 4– Bo-Swaarmoed tot Prins Alfred
Afstand: 46 km
Algehele afstand afgelê: 190 km
Passe: Bo-Swaarmoed-pas
Dag 5 – Prins Alfred tot Houdenbek
Afstand: 49 km
Algehele afstand afgelê: 239 km
Passe: Gydo-pas
Dag 6 – Houdenbek tot Grootrivierhoogte
Afstand: 43 km
Algehele afstand afgelê: 282 km
Passe: Blinkbergpas
Dag 7 – Grootrivierhoogte tot Driehoek Toeriste-plaas
Afstand: 39km
Algehele afstand afgelê: 321km
Dag 8 – Driehoek tot Clanwilliam
Afstand: 39 km
Algehele afstand afgelê: 360km
Passe: Uitkykpas



