Tannie Dot se raad vir ’n lang lewe is om altyd na jou medemens uit te reik. FOTO: Rick Marais


’n Inwoner van die ACVV- Huis Marie Louw-aftreeoord in Somerset-Wes, wat haar honderdste verjaarsdag oor tien dae vier, is dankbaar om dié ouderdom te haal.

Muriel Dorothy, beter bekend as Tannie Dot, verjaar Saterdag 25 Februarie en word 100. Sy sê die lewe beweeg stadig, maar wat dit draaglik maak, is vriende, familie en om ’n helpende hand aan jou medemens te verleen.

Tannie Dot is in Middelburg in Mpumalanga gebore en het in Witbank grootgeword. Sy het aan ’n Engels-medium skool skoolgegaan, al is sy eintlik vlot in Afrikaans.

“Daai tyd was daar net een skool, en dit was die Engelse skool. So, ek moes dit bywoon,” skerts tannie Dot.

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek, het tannie Dot kantoorwerk vir ’n bouer begin doen.

“Ek was by ’n troue as ’n strooimeisie en ’n strooijonker het my raakgesien. Ons het nie destyds uitgegaan nie – nee, ons het dadelik getrou,” onthou tannie Dot.

Die egpaar het drie kinders saam gehad.

“Ons het twee dogters en ’n seun gehad. Die Mostert in ons seun (Sybrand Mostert) se naam kom van die bekende Mostert-meul af, een van die laaste werkende meule in Afrika.”

Met ses kleinkinders en vyf agterkleinkinders vertel tannie Dot dit is nog altyd vir haar baie lekker om tyd saam haar familie deur te bring.

Tannie Dot, wat vir ’n 100-jarige nog baie aktief is, sê sy was ’n goeie gholfspeler op haar dag en haar gesonde leefstyl het haar gehelp om dié hoë ouderdom te haal.

“Ek moet eintlik die Here bedank, want Hy is so gaaf teenoor my,” sê tannie Dot.

Tannie Dot is Donderdag (9 Februarie) met ’n sjokolade-verjaarsdagkoek met drie kerse, ’n een en twee nulle op, verras.

Werkers by die ACVV-Huis Marie Louw beskryf tannie Dot as “iemand met ’n goue hart”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article