As alles volgens plan verloop, sal Akademia se geografiese uitbreiding na die Wes-Kaap in Februarie 2026 ‘n hoogtepunt bereik wanneer dié instelling die deure na sy splinternuwe Paarl-kampus vir die akademiese jaar oopswaai.
Só vertel Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, tydens ‘n Wes-Kaap-hoofdegeleentheid wat op Dinsdag 11 Februarie aangebied is. Dit volg nadat die instelling in April 2024 sy voorneme aangekondig het om sy geografiese voetspoor na dié streek te vergroot.
Visser, vergesel deur ‘n afvaardiging van personeel van Akademia en die Solidariteit- skoleondersteuningsentrum (SOS), het by hierdie geleentheid in Paarl ‘n hand van kennismaking én samewerking na die plaaslike Afrikaanse onderwysgemeenskap uitgesteek. Die geleentheid het dit verder ten doel gehad om die sluier te lig oor die vordering ten opsigte van die vestiging van Akademia se nuwe Paarl-kampus.
Wêreldklas-kampus
Dié satellietkampus span die kroon op die instelling se huidige groeitrajek en baan die weg na die realisering van nóg ʼn Akademia-droom, naamlik die ontwikkeling van ‘n wêreldklas- kampus in Pretoria teen 2028.
Visser het trots aangekondig dat die nuwe tussentydse Paarl-kampus in die hartjie van Esterville geleë sal wees en dat die instelling se nuwe adres in die Wes-Kaap later bekend gemaak sal word. Die vestiging van dié satellietkampus bou voort op die instelling se reeds bestaande sentrumnetwerk in onder meer George, Paarl en Somerset-Wes, waar Fonties* hul studie via die na-uurse afstandmodel doen.
Die kampus sal gestalte gee aan Akademia se voltydse kampusmodel – soos wat dit reeds in Centurion die geval is – en sal in sy vestigingsjaar ‘n studietuiste vir ongeveer 340 eerstejaarstudente wees. Dit sal studente nie net toegang gee tot die instelling se vyf fakulteite nie, maar ook tot ‘n bruisende en eiesoortige studentelewe.
Prof. Gawie du Toit, wat tans die dekaan van die fakulteit opvoedkunde by Akademia is, sal as hoof van dié kampus diens doen. Du Toit is al langer as 35 jaar aktief betrokke in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor as onder meer navorser, departementshoof, kurrikulumontwikkelaar, programdirekteur en senior bestuurder.
Die volgende programme sal met die aanvang van die 2026- akademiese jaar by dié kampus aangebied word:
• Fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe: BCom (ekonomie en regte), BCom (finansiële en bestuursrekeningkunde), BCom (ondernemingsbestuur) en BCom (rekeningkunde)
• Fakulteit geesteswetenskappe: BA (kommunikasie en joernalistiek), BSocSci (politiek, filosofie en ekonomie)
• Fakulteit natuurwetenskappe: BSc (rekenaarwetenskappe)
• Fakulteit opvoedkunde: BEd (grondslagfase-onderwys), BEd (intermediêre fase-onderwys)
• Fakulteit regsgeleerdheid: LLB
Aanlyn studieaansoeke vir die 2026- akademiese jaar open op Dinsdag 1 April vanjaar.
Volgens Visser sal studente tydens hul studiejare voluit aan ‘n aktiewe studentelewe kan deelneem en hul talente op só ‘n wyse kan ontwikkel dat hulle roepingsgedrewe tot voordeel van hul gemeenskap sal kan leef.
“Studentelewe by Akademia het dit ten doel om ‘n tuiste te skep waar studente se denke én hart in samehang kan ontwikkel en ons is daartoe verbind om – soos reeds die geval by ons kampusse is – ook in die Wes-Kaap in hierdie ontwikkeling van goed gevormde studente te belê,” sê hy.
Verkose studenteraad
Dié studentelewe sal vorm aanneem by wyse van ‘n verkose studenteraad (SR), daghuise en ‘n verskeidenheid aktiwiteite, waaronder sport, kultuur, gemeenskapsprojekte en sosiale en goed gevestigde studenteondersteuningstrukture.
Wat die fasiliteitsinrigting betref, verduidelik Visser die plan is dat dit teen die einde van Augustus vanjaar voltooi sal wees.
Die volgende fasiliteite word ingerig: 13 lesinglokale, ‘n koffiewinkel, ‘n kafeteria,’n mediasentrum, ‘n Akademia-winkel, saamwerkruimtes, ‘n onthaallokaal asook veilige parkering. Hierdie fasiliteit sal later vanjaar amptelik bekendgestel word.
Intussen word ‘n propvol Wes-Kaap-gebeurlikheidskalender in die vooruitsig gestel met onder meer ‘n kampus-opedag, skoolbesoeke, ‘n toppresteerder-
saamtrek (Elite-Fontie), vakkeuseaande en Akademia se deelname aan die Paarl-koorfees ter viering van die eeuwording van Afrikaans later vanjaar.
“As ‘n instelling verteenwoordig 2025 ‘n gróót jaar waarin ons hard gaan werk om gestalte te gee aan ons droom én roepingsbesef, naamlik om as ‘n Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling diensbaar te wees vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe,” sê Visser.
Hy voeg by dat die instelling reeds baie vermag het sedert die eerste klasse 13 jaar gelede met slegs 42 studente in vier programme begin het. “Ons staan waarlik op die skouers van die gemeenskappe wat ons dien en sien uit na die vestiging in die Wes-Kaap. Dit is ons droom om teen 2032 ‘n voorkeurstudietuiste vir méér as 2 000 Fonties in dié omgewing te wees, met ‘n voltydse personeelkorps van meer as 100 kundige en ervare personeel.
“Intussen vat ons doelgerig hande met die gemeenskap om só die voortsetting van die Afrikaanse universiteitswese te help verseker,” sluit Visser af.
• Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.





