Danielle Kleyn, ’n gr.11-leerder aan die Hoërskool Parel Vallei.


Danielle Kleyn, ’n Afrikaanssprekende gr.11-leerder aan Hoërskool Parel Vallei, is as die beste vroulike deelnemer aan die Pan-Afrika Wiskunde-Olimpiade gekroon.

Dit is boonop die tweede jaar in ’n ry dat die 17-jarige dié uitsonderlike prestasie behaal.

Die olimpiade is vanjaar van 31 Maart tot 7 April in Muizenberg aangebied. Altesaam 62 deelnemers uit 14 Afrika-lande, waaronder Botswana, Nigerië en Zimbabwe, het vanjaar deelgeneem en twee wiskundevraestelle geskryf. Die vrae het gehandel oor algebra, meetkunde, waarskynlikheid en numeriese teorie.

Deelnemers moet jonger as 20 wees.

“Die vraestel handel nie oor die soort wiskunde wat ’n mens op skool doen nie. Dis baie moeiliker, maar ek het goed voorberei deur ou vraestelle deur te werk en oefenkampe by te woon,” sê Danielle.

Sy het die beste van al die meisies gevaar en die algeheel vierde plek behaal. Sy het verlede jaar dieselfde prestasie as gr. 10-leerder behaal.

Danielle moes die toets boonop in Engels aflê, hoewel sy sedert laerskool in Afrikaans skoolgaan. “In die hoërskool word ons klasse in Afrikaans en Engels aangebied en ek maak dikwels notas in Engels,” sê Danielle.

“Die oefenkampe wat ek ter voorbereiding vir die olimpiade bygewoon het, was ook in Engels, dus was dit nie juis vreemd om die vraestel in Engels te skryf nie.”

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die Skole-ondersteuning­sentrum (SOS), sê Danielle se puik prestasie bewys dat Afrikaanse leerders in staat is tot uitnemende akademiese prestasies in ander tale, mits die grondslag behoorlik in hul moedertaal vasgelê is.

“Moedertaalonderrig, sowel as die hoë gehalte onderrig in Afrikaanse skole, stel Afrikaanse leerders in staat om groot hoogtes in Engels te bereik. Dit is dus nie nodig om ons kinders in Engelse skole te sit net omdat ons dink dit sal hulle ’n voorsprong in die werkplek of op universiteit gee nie,” sê Brink.

Danielle skryf haar goeie prestasie toe aan bekwame onderwysers en baie oefening. “In die weke voor die kompetisie het ek soms tot 12 uur per dag wiskunde gedoen.”

Sy sê dit is belangrik om die prosesse in wiskunde te verstaan en te weet hoekom ’n probleem volgens ’n bepaalde manier opgelos word, eerder as om die stappe meganies uit jou kop te leer.

“Oefening is baie belangrik in wiskunde. Hoe meer jy oefen, hoe beter sal jy die werk verstaan,” sê Danielle.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article