Vier atlete van Strand en Overberg het dié seisoen uitstekend op die atletiekbaan gevaar en hul afrigter en mentor, De Wet Kotzé, is ongelooflik trots op sy atlete.

De Wet sê die resultate is deur harde werk en baie sweet bereik. “Ons het ’n goeie band tussen my en die atlete, wat voorwaar puik is.”

Zenade October, ’n o.15-meisie van Hoërskool Parel Vallei, is seker die merkwaardigste van die groep. Sy neem in die 800 m, 1 500 m en 3 000 m deel met gemiddeld eerste tot derde plekke in die streekkampioenskap tot die Boland-atletiekkampioenskap.

“Sy hardloop gemiddelde tye van 2 minute 24 sekondes in die 800 m; 4:55 in die 1 500 m en 10:45 in die 3 000 m. Dit is eintlik die 800 m waar sy duidelik haar merk begin maak,” sê haar afrigter.

Sy het goud by die Wes-Kaapse hoërskole-atletiekkampioenskap met ’n merkwaardige tyd van 2:18 in die 800 m gewen. Zenade het ’n silwermedalje in die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap met ’n tyd van 2:11 gewen, en aan die ASA-atletiekkampioenskap deelgeneem waar sy goud in die 800 m gewen het.

“Volgens haar tye vir die 2019-atletiekseisoen is sy in die 800 m tans onder die vyf beste junior en jeug-meisiesatlete in Suid-Afrika.”

Gerhard Eckley is ’n o.18-stapatleet. Hy het op ’n vroeë ouderdom in stap presteer en verskeie plekke op SA skole- en ASA-vlak ingeneem. Sy beste items is die 1 500 m-, 5 000 m- en 10 000 m-stap. Gerhard het ’n silwermedalje in die Boland-atletiekkampioenskap in die 10 km-stap gewen. Hy het ’n goue medalje in die Wes-Kaapse atletiekkampioenskap gewen en was vyfde in die SA skole-kampioenskap in ’n tyd van 54 minute.

“Dit is voorwaar puik deursettingsvermoë van jongs af,” sê Kotzé.

Jacquerite Kotzé is ’n o.23-atleet wat haar terugkeer tot atletiek in April in die WP o.23- en senior atletiekkampioenskap gemaak het. “Sy het ná net twee en ’n halwe weke se atletiekoefening derde in die 5 000 m in ’n tyd van 20 min. en 21 sek. geëindig – voorwaar ’n puik prestasie.”

Jacquerite was op laer- en hoërskool ’n provinsiale atleet en verskeie kere SA kampioen by SA Skole vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes, asook ASA junior vlak.

Darrian Joseph is ’n o.18-hoogspringatleet van die Hoërskool Grabouw wat vanjaar sy Boland-hoërskole-atletiekkleure gekry het. “Hy pluk die vrugte van sy harde werk.” Joseph het die seisoen op 1,90 m begin, ’n derde plek in die Boland-hoërskole-atletiekkampioenskap met ’n hoogte van 1,94 m behaal en was onder die top-8 by die Wes-Kaapse hoërskole-atletiekkampioenskap waar hy op ’n hoogte van 1,95 m oor die dwarslat geseil het.

“Ek wil ook dankie sê aan mev. S. Kweon van Hoërskool Grabouw vir haar tegniese hulp met Darrian.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article