Altesaam agt bome is deur die AfriForum-tak in die Helderberg in die Gordonsbaai-omgewing geplant – onder meer by die kleuterskool Covenant ECD.

Credit: SYSTEM

Die AfriForum-tak in die Helderberg-kom hoef nie te wag vir Kersfees om te gee nie, hy het reeds in November gewys hy gee graag. Dié tak het in November bome geskenk en ook toegesien dat verskeie ander instansies iets in die koskas het vir hul inwoners.

Altesaam agt bome is in die omgewing van Gordonsbaai geplant, onder meer by die Covenant ECD, ’n kleuterskool in dié gebied. Die bome wat geplant is, is onder meer witolienhout (Buddleja saligna), geelhout (Podocarpus latifolius), assegaaiboom (Curtisa dentata), waterboom (Ilex mitis), wildekanferbos (Tarchonanthus camphoratus) en waterpeerboom (Syzygium guineense).

Verder het die tak ook onder meer brood, botter, konfyt en ander benodigdhede aan Helpende Hand se Ons Plek en SenCit Resthaven-tehuis geskenk.

Ben Cronje, voorsitter van AfriForum se Helderberg-tak, het sy dank uitgespreek aan die Mountain View Spar in Gordonsbaai, wat gehelp het om die skenking aan Ons Plek en SenCit moontlik te maak.

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrik­s­koördineerder vir die Boland, is die nuwe bestuur van dié tak gretig om die gemeenskap se probleme die stryd aan te sê en daadwerklik ’n verskil te maak. “Hierdie tak maak reeds ’n positiewe verskil in die gemeenskap, maar dit is maar net ’n druppel aan die emmer in vergelyking met wat die tak vir 2024 beplan.”

Die tak nooi die gemeenskap om by www.wordlid.co.za aan te sluit en deel te word van hul bedrywighede.

Foto:

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article