Die Gordonsbaaise pensioentrekker Willem Myburgh is dood toe sy ligte vliegtuig Dinsdag 29 Augustus op ’n plaas buite Robertson neergestort het.


’n Plaaslike familie is in rou gedompel nadat hul geliefde patriarg in ’n vliegongeluk dood is.

Willem Charl Myburgh, ’n geliefde eggenoot, pa en oupa van Gordonsbaai, is in die ouderdom van 66 dood toe sy ligte vliegtuig verlede Dinsdag (29 Augustus) op ’n plaas buite Robertson neergestort het. Dié Helderberger was ’n ervare vlieënier wat dekades lank as vliegtuigtegnikus gewerk en ná sy aftrede voortgegaan het om sy passie vir vlieg as ’n stokperdjie uit te leef.

Myburgh se dogter, Ester Jones, het in ’n telefoniese onderhoud herroep dat haar geliefde pa op daardie noodlottige oggend vroeg met sy tweesitplek-vastevlerkvliegtuig uit Worcester na Swellendam gevlieg het vir ’n afspraak. Jones het gesê haar pa het die vliegtuig in Mei vanjaar aangeskaf en die aankoop in ligte luim as ’n geval van “big boys, big toys” beskryf. Sy het bygevoeg Myburgh se denkwyse was “Why drive if you can fly” en hy het nie juis rede nodig gehad om ’n vlug aan te pak nie. “My pa wou net vlieg, en jy moes deel wees daarvan,” het sy gesê.

Jones het voorts gesê ’n plaaswerker het die vliegtuig na bewering oomblikke voordat dit neergestort het, op pad terug in die lug gesien. “Die werker het toevallig opgekyk en die vliegtuig glo uit die lug sien tol voordat dit naby ’n leë perdestal neergestort het. Daar was na bewering ’n klein ontploffing en toe bars die vliegtuig in vlamme uit. Die brand is deur plaaswerkers geblus totdat nooddienste op die voorval gereageer het,” het sy vertel. “My pa was baie veiligheidsbewus en het geoefen om ’n vliegtuig in die moeilikste omstandighede te land – selfs in die ergste scenario. Ons glo en kan met vertroue sê dat hy die vliegtuig sou beheer as hy kon.”

Op pad terug verongeluk

Volgens Jones het haar pa as ’n vliegtuigtegnikus gewerk en 20 jaar aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gewy voordat hy by die Hongkongse maatskappy Haeco aangesluit het. Hier het hy vir 18 jaar gewerk.

Hy het ná sy aftrede sy private vlieglisensie asook sy kommersiële vlieglisensie verwerf. Hy het een keer ’n maand as aandiens vlieënier by die Stellenbosch-vliegklub afgelos.

Volgens Sisa Majola, ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (Sacaa), is die ondersoek-afdeling in kennis gestel van die ongeluk waarin die Tri Cubby-vastevlerkvliegtuig Dinsdag naby die Robertson-lughawe betrokke was en die alleen-insittende noodlottige beserings opgedoen het.

“Die vliegtuig het van die Worcester-vliegveld na die Swellendam-vliegveld opgestyg, en die ongeluk het gebeur terwyl hy omstreeks 12:00 na die vertrekpunt teruggekeer het,” het Majola gesê.

“ ’n Span ondersoekers is aangestel om bewyse en meer inligting in te samel, wat sal help om die grootte sowel as die omvang van die ondersoek te definieer. ’n Voorlopige verslag sal binne 30 dae ná die dag van die voorval uitgereik word.”

Jones het gesê die familie is ná 11:00 met nuus oor die noodlottige voorval gebel.

“Omstanders het tussen die oorblyfsels op ’n stukkie van ’n besigheidskaartjie met my pa se naam en kontaknommer asook ’n gedeelte van ’n rekening met my ma se besonderhede afgekom en twee en twee bymekaargesit.”

Oral vriende gemaak

Volgens Jones wag die familie op die doodsertifikaat om begrafnisreëlings te kan begin tref. Hulle het Vrydag DNS-monsters vir die formele uitkenning weggestuur. Volgens Jones het die lykskouing bevestig die ongeluk is nie weens gesonheidsredes veroorsaak nie. “Terwyl amptelike verslae van die lugvaartowerheid nog uit is, is die vluggemeenskap se bespiegelings dat dit moontlik weens ’n skielike afwaartse lugstroom veroorsaak is.”

Jones het haar pa verder beskryf as iemand wat baie uitgaande was en oral vriende gemaak het. “Hy was nederig en deernisvol. God was deel van sy lewe asook die mooi pad wat hy saam met ander gestap het. Hy het ’n groot impak gemaak en almal wat weens die voorval na die familie uitgereik het, kan hiervan getuig,” het Jones gedeel.

Jones het voorts gesê sy en haar ouer suster, Maringa van Zyl, asook hul kinders, sal hul pa en oupa veral as die liefdevolle gesinsman onthou wat fisiek dinge saam met sy familie gedoen en geleer het.

Jones en Van Zyl koester veral hul eerste, maar Myburgh se tiende, Argus-fietstoer, wat hulle saam baasgeraak het.

“My pa was avontuurlustig en het – wanneer hy nie ’n wyntjie en ’n sonsondergang geniet het nie – fiets getrap. Hy was ook ’n ywerige skubaduiker en het meer onlangs ’n liefde vir kanovaart ontwikkel.”

As leermeester van die lewe het Myburgh ook baie jong vlieëniers as mentor onder die vlerk geneem.

Myburgh word oorleef deur sy vrou van byna 45 jaar, Woudene (65), hul dogters Ester Jones (41) en Maringa van Zyl (43), skoonseun Peter Jones (42), en vyf kleinkinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article