Danie Rossouw, die eienaar van The Butcher & Son, het as wenner van AfriForum se sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie weggestap.
Die kompetisie is Dinsdag 10 en Woensdag 11 Oktober in samewerking met Akademia, Steyn IP, Kwikstert, Acctiva Accounting, Wolk en Senbel aangebied, en dié Somerset-Wes-slaghuis het die gesogte titel as 2023 se Entrepreneur van die Jaar verower. The Butcher & Son se fondament is gebou op die volgende kernwaardes: bestendigheid, gehalte, kommunikasie, diens en familie.
“Ons produk is vir almal, maar ons teikengehoor is gewis meer Afrikaans. Ons ploeg terug in die gemeenskap – my mense van die Helderberg-omgewing – en ons vervul ook ’n rol by ouetehuise, Afrikaanse laerskole en vele meer. Ons doen moeite om ’n buitengewone produk te lewer en kyk veral na spesiale beesrasse vir ons vleissnitte,” sê Rossouw.
Die finaliste moes elkeen ’n voorlegging doen om aan die uitgesoekte paneel beoordelaars voor te lê. Hoewel pryse op die spel was, is die kompetisie ook uniek danksy die platform wat dit aan die wenner bied.
Rossouw is aanvanklik van die Helderberg-omgewing en bevind homself nou terug op tuisveld as die trotse stigter en eienaar van The Butcher & Son. “Ek stap hierdie onverwagte reis saam met my pragtige vrou, Leana, en ons seun Daniel. Daniel vorm nie net deel van The Butcher & Son se identiteit nie, maar is ook een van die hoofredes waarom ons die besluit geneem het om hierdie geloofsprong te neem.”
Rossouw sê die slaghuis is vir hom nie net ’n onderneming nie, maar ’n passie en groeiende nalatenskap vir sy familie en om in sy moedertaal met die plaaslike gemeenskap van Somerset-Wes en omliggende gebiede regtig te gesels. “The Butcher & Son maak grootliks voorsiening vir die Afrikaanse gemeenskap, aangesien ek self Afrikaans is. Dit is vir my belangrik om my erfenis te handhaaf en te verseker dat Afrikaanse tradisies steeds gevier word. Op daardie noot – enigiemand is welkom; volgende keer as jy kom, kom sê hallo en bring die hele gesin!”
Entrepreneurskap is van kleins af by Rossouw ingeskerp. Sy pa is ’n enkelouer, maar het nooit versuim om vir hom en sy broer die beste te gee nie, maar hulle moes self sakgeld verdien. Van sy laerskooldae af het hy in die vakansies kreef geduik en dit aan Pretorianers in Kleinmond se karavaanpark verkoop. Daar het hy besef hy kan maklik met mense gesels, en so het die verkoopsgogga hom gebyt. “Ek is baie lief vir die natuur en bring graag my vrye tyd daar deur. Ek is mal oor sport soos lyfplankry saam met ‘die seun’ van The Butcher & Son. Ek probeer om Daniël die basiese beginsels waarmee ek grootgeword het, te leer en te leer dat niks in die lewe gratis is nie – jy werk daarvoor. Aangesien die onderneming nog jonk is, is dit een van my grootste prioriteite. Dit is belangrik om die meeste van (soms al) my tyd aan The Butcher & Son te wy. Hierdie eerste paar jaar is deurslaggewend vir die bou van ’n sterk fondament en uiteindelik langtermynsukses.”
Behalwe om ’n sterk fondament te bou, probeer Rossouw innoverend bly. Dit beteken om die mark te verstaan en nuwe idees bekend te stel, wat die slaghuis sal help om bo die res uit te staan. Dit verg voortdurende navorsing, volgens hom, om op hoogte te bly van neigings, asook om by meer moderne metodes en prosedures binne die vleisbedryf aan te pas. “Ek persoonlik hou daarvan om met unieke resepte en interessante snitte vorendag te kom, byvoorbeeld ons Thor Hammer! As jy meer wil sien, volg ons asseblief op sosiale media. Ons het alles wat jy moet weet, geredelik beskikbaar, insluitend ’n paar voorskoue van wat vir The Butcher & Son oor die volgende paar jaar voorlê!”
Die anker wat sy voete stewig op die grond hou, is die liefde vir sy gesin. “My familie, veral my pa, het my geleer dat jy eers jouself moet liefhê voordat jy ander werklik kan liefhê en dien. Hieruit vloei lojaliteit jeens my medemens en die vleisbedryf voort. Dit is ook die groot rede hoekom ek my slaghuis in Somerset-Wes gevestig het, want ek is lojaal aan my tuisdorp en sy mense. Dit is immers hierdie gemeenskap wat my menswees help vorm het. Harde werk en deursettingsvermoë gaan hand aan hand. As jy sukses wil behaal, moet jy bereid wees om hard te werk en sodoende sal die produkte en diens wat jy lewer, asemrowend wees.”
Rossouw sê die beste besluit wat hy van die begin af gemaak het, was om die onderneming met die regte span op die been te bring. “Om mense aan te stel wat nie net in pas is met jou handelsmerk nie, maar ook jou waardes. Laat individue met sekere vaardighede toe om die gapings te vul. Vir my was bemarking een van die min goed wat nie onderhandelbaar is nie. Dit het my gehelp om baie vinniger ’n klantebasis te bou, en ook om met ’n baie wyer gehoor te kommunikeer.
Ek sou sê my grootste ‘fout’ (of les) was om te vroeg te veel skuld op te bou. Ek moes ’n kapitaal-lening aangaan met die opening van die slaghuis, en hoewel dit my geweldig gehelp het, het dit ook baie druk in ’n reeds stresvolle proses bygevoeg,” erken hy.
“Ek is regtig lief vir wat ek doen en ek geniet dit. Hoewel uiters uitdagend, is The Butcher & Son net so lonend. As ek hierdie skuif op die ouderdom van 39 kon maak, glo ek werklik enigiemand kan hul entrepreneursdroom bereik deur die regte doel, beplanning en ondersteuning. Laastens, my stukkie raad vir enige entrepreneur wat ’n manier soek om te ontspan Braai!”



