’n Geliefde speelskool – en ook een van die oudste in Strand – het vroeër vanjaar 35 kersies op sy verjaardagkoek van sukses uitgeblaas.
ACVV Speelkasteel, wat kleingoed met trots koester, beskerm en ontwikkel, het sy 35ste bestaansjaar in Oktober gevier.
“Ons verjaardagwens is dat die kleuterskool slegs vooruit gaan en voortbou op dit wat reeds oor die jare bereik is,” het die skoolhoof, Neeltjé James, na aanleiding van dié mylpaal gesê.
ACVV Speelkasteel het aanvanklik in 1966 as ’n ACVV-versorgingsoord begin en is uit ’n huis in Joubertstraat bedryf. Die speelskool, soos voorgestel deur H.V. van Wyk, het op 20 Oktober 1987 by die huidige perseel in Jurgensstraat geopen (“Speelkasteel leer speel-speel,” Helderberg Gazette, 11 Desember 2018).
Die skool se stigting is geïnspireer toe ’n dringende behoefte vir kindersorg in 1966 in die gemeenskap identifiseer is. Die ACVV Strand-tak is na aanleiding hiervan gestig.
Nege bestuurslede was destyds by die skool se opening teenwoordig. Sedert die skool se nederige ontstaan met 40 kinders het dit oor die jare merkwaardig gegroei.
Deesdae pronk die skool, wat ook ’n nasorgsentrum bied, met 133 kinders, onder wie babas, kleuters en gr. R-leerders, sowel as 20 personeellede.
Vir kleingoed van twee- tot vyfjarige ouderdom word ’n vroeëkinderontwikkelingsprogram aangebied, en die Wes-Kaapse departement van onderwys se kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) word vir die gr. R-klas aangebied. Babas tussen drie maande en twee jaar vind baat by ’n stimuleringsprogram.
Speelkasteel bied ook ’n groot verskeidenheid aktiwiteite aan soos Playball, Kindermusik, Seetlief, Monkeynastix, Dance Mouse, Rugga Kids (rugby) en Stimuzone (rekenaarklasse).
Die skool se missie is om ’n ontwikkelings- en versorgingshulpbron in die gemeenskap te wees deur uitmuntende en bekostigbare versorging aan voorskoolse kinders en hul gesinne te bied, asook doeltreffende toesig en versorging van die laerskoolkinders in die nasorgsentrum. Die sentrum se visie is “om gelukkige, goed aangepaste kinders in ’n veilige ontwikkelingsgerigte, stabiele omgewing te help om hulle volle potensiaal te bereik en om lewensvaardighede te ontwikkel, wat hulle in staat sal stel om hul plek in die gemeenskap vol te staan”.
Die skool is veral trots op die ruimte wat sy perseel met ’n skoolsaal en groot klaskamers en speelruimtes bied.
Volgens James skryf die skool sy dekades lange sukses toe aan wonderlike personeel wat die kinders met liefde en toewyding versorg. Sy het die leisels in Julie 2019 as skoolhoof oorgeneem en sê die skool lê haar om verskeie redes na aan die hart, met inbegrip van die betrokkenheid van omgee-mense, goeie bestuur en wonderlike ondersteunende ouers en personeel, wat altyd bereid is om die ekstra myl te stap.
Benewens die skool se nuwe voorkoms is die opgradering van al die klaskamers ook in die pyplyn, het James verklap.



