Kinders van Stellenbosch het Donderdag 13 Maart hul eie viering van die Cape Epic-bergfietstoer gehad toe hulle op nuwe bergfietse by die Polkadraai-fietspark gery het.
Die leerders is deel van die Raithby Anna-stigting, wat kinders help met “reading, running and righting”.
Volgens Anna Brom, wat die stigting twee dekades gelede begin het, sal die 49 splinternuwe fietse vir die kinders van die stigting se 22 programme gebruik word. Die fietse is deur die Iron Man-stigting geskenk en met behulp van Cape Epic, ‘n jare lange ondersteuner van die organisasie, oorhandig.
“Sonder ons wonderlike vennote sou ons nie hierdie werk vir 20 jaar kon doen nie,” vertel Brom.
Brom en haar span werk met oorwegend plaaskinders van Stellenbosch en Paarl tot in die Langeberg en so ver as Bonnievale. Jaarliks help hulle sowat 850 kinders met leesprogramme, fiksheid en ontwikkeling. Die programme help ook om 55 vroue werk te gee.

“Die doel is om kinders holisties te help ontwikkel. Benewens die opvoedkundige werk wat ons met hulle doen, neem ons hulle gereeld na fietsrybane en parke soos Polkadraai. Daarom is hierdie skenking so besonders. Die Cape Epic is een van ons oudste vennote en die kinders kry die geleentheid om na die fietstoer te gaan, te sien hoe die fietsryers deelneem en leer meer oor hoe die fietsren werk. Die hoop is natuurlik dat hulle geïnspireer word om eendag self die Epic aan te pak,” sê Brom.
Brinley Salvester (12) van Devonvallei Primêr sê hy was ‘n bietjie senuweeagtig oor die kronkelende fietsroete, maar toe hy eers op die baan kom, het hy dit baie geniet. Hy sê hy en sy maats leer by die Anna-stigting meer oor respek en hoe om te luister en saam speel hulle speletjies.
Dit was veral vir Kiara Barends (10) ‘n groot dag, want sy het geleer fietsry. Kiara het met die hulp van Sean Wilson, wat verlede Sondag die Cape Epic-tog aangepak het, probeer regop bly en trap. Hoewel dit haar eerste dag op ‘n fiets was, het sy gesê sy wil die fietspark gewis weer besoek.
Audra Tassonc, direkteur van die Iron Man-stigting, het by die oorhandiging gesê die stigting sal oor die volgende vyf jaar $50 000 skenk aan die Cape Epic-gemeenskap as deel van hul strewe om voedsoolvlak-projekte te help.







You must be logged in to post a comment.