Die rugby-afrigters van Hoërskool Parel Vallei wat as rugbyskool van die jaar aangewys is. Agter van links is Le-Daan Rousseau, Leclue Visser, Francois du Toit, Johann de Kock, Hugo Cloete, Johandre Labuschagne en Angelo Fritz. Voor sit Stefan Kruger, Jacques du Plooy, Thinus Pienaar (hoof van PV Rugby) en Charl Marks. Foto:


Hoërskool Parel Vallei is pas aangewys as die rugbyskool van die jaar in ’n nasionale kompetisie wat deur www.ruggas.co.za aangebied is.

Die personeel en leerders is almal in hul noppies oor hierdie prestasie waarvoor hulle die afgelope jaar so hard gewerk het.

“Ons was altyd baie sterk op akademiese so wel as kultuur- en dramagebied, maar ons het gestreef om ons rugbyspanne op te bou en sterker te maak,” sê die skool se hoof, David Schenck.

Sowel Schenck as die hoof van PV- rugby, Thinus Pienaar, verduidelik dat hulle wil hê die rugbyspelers in die Helderberg moet in die toekoms na hul skool kyk wat rugby betref.

“Ons wil nie hê die kinders en hul ouers moet die R44 aandurf om by goeie rugbyskole uit te kom nie, maar dat hulle hul oë net hier in die Helderberg vestig.”

Volgens Pienaar was dit al ’n hele ruk sy droom om die standaard van rugby by die skool te bou.

“Dit was my droom en dit het waar geword. Ek meet ons aan die feit dat ons van ses rugbyspanne na 11 spanne gegroei het.

“Die kinders kom vra al vroeg voor skool ’n rugbybal sodat hulle kan speel en elke pouse speel hulle raak-rugby op die veld.”

“By die skool het ons iets wat ons noem, die Blou Draad, dis iets wat ons in al ons leerders kweek, om trots te wees op die skool en om deel te neem aan sport en kultuur en drama, maar om ook te presteer op akademiese vlak en om trots te wees op die uniform wat hulle dra.

“Die rugby-ontwikkeling was deel daarvan,” het Schenk ook gesê.

Hy sê voorts hy wil graag vir Hoërskool Strand, sowel as Hoërskool Hottentots-Holland, bedank as hul waardige opponente.

“Ons waardeer dit om teen hulle te speel en sonder hulle sou ons nooit wees waar ons nou is nie. Ons is opreg dankbaar vir die skole rondom ons wat aanhou met rugby.”

Sowel Pienaar as Schenck kan nie genoeg hul dank uitspreek teenoor hul borge en die res van die afrigters nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article