Gratis trekkerritte is net een van die vele aktiwiteite wat vanjaar by die Eikendal Weintaufe-karnaval aangebied word. Foto:


Die Stellenbosch wynlande sal in ’n wonderwêreld omskep word wanneer Eikendal-landgoed Sondag 5 Maart die einde van die oes met ’n plaasstyl Weintaufe-karnaval vier.

Die Eikendal Weintaufe het oor die jare heen ’n somer-familietradisie in die wynlande geword en vanjaar kan entoesiaste hulself oorgee aan ’n dag van pure landelike saligheid met uitsonderlike wyne, heerlike straatstalletjie-styl kos, speletjies, gelukkige trekkings en musiek deur die talentvolle Newton & Co.

Die landgoed is bekend vir gefokusde en gestruktureerde wyne, wat die beste in variëteit-erkenning vertoon, en by dié ontspanne kermis, sal die veelvuldig-bekroonde Chardonnay die kalklig steel as die landgoed se eerste wyn van die nuwe oesjaar.

Komplimentêre trekkerritte om ’n kykie te kry in al die wonderlike dele van dié goed geoliede wynplaas, druiwetrap en gholf-aksie by die dam, sal bydra tot ’n heerlike dag saam met jou familie.

Vermaak vir die kinders wissel van gesigverf en gewilde koekieversiering, tot aapstreke in die klouterraam.

Kaartjies vir die Eikendal Weintaufe-oeskarnaval sal op die dag by die hek beskikbaar wees en beloop R80 per persoon. Die koste sluit in ’n glas, proe uit die vat en al die vermaak vir die dag.

Toegang is gratis vir onder 18’s. Die hekke open om 10:00.

Maak seker jy kry ’n lekker plekkie voor die amptelike doop en proe van die nuwe Eikendal Chardonnay 2017 om 12:00.

Vir meer inligting bel die landgoed by 021 855 1422 of stuur ’n e-pos na info@eikendal.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article