Voornemende studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal ’n geleentheid gebied word om waardevolle inligting by hoër onderwysinstellings te bekom wanneer die US se ope dag Saterdag 23 Februarie van 08:30 tot 16:00 by die Stellenbosch- en Tygerberg-kampus plaasvind.
“Die groot voordeel van ’n ope dag is dat voornemende studente direk met personeel verbonde aan die universiteit kan gesels. Só kan hulle die inligting kry wat hulle wil hê oor die onderskeie studievelde en die ondersteuningsdienste wat die universiteit bied,” vertel Magdel Pretorius, projekbestuurder vir die sentrum vir studentewerwing en loopbaanadvies.
Gr.11- en 12-leerders kan onder meer inligting kry oor loopbaankeuses, finansiële steun, huisvesting en studentegemeenskappe, sowel as die studentelewe.
Nuut op vanjaar se program is ’n besprekingsprogram wat die afdelings studentetoegang en studentesake op die Rooiplein aanbied. Temas sluit in: “Die gaping tussen skool en universiteit” en “Wenke aan matrikulante van huidige studente.” Leerders wat belangstel in hoëprestasiesport kan ook met atlete en sportbestuurders van Maties Sport gesels.
Besoekers word aangemoedig om by die verwelkomingsgebied op die Rooiplein by die biblioteek-amfiteater aan te meld, waar volledige inligting oor die dag se program en die inligtingsessies beskikbaar gestel word, terwyl daar oor die kampus inligtingsbeamptes sal wees om besoekers raad te gee.
Besoek ook www.maties.com vir die volledige program vir die ope dag.

