Die Hoërskool Strand se trekkers tydens die afgelope SA Junior Toutrekkampioenskap in Oudtshoorn.


Hoërskool Strand se toutrekkers het hulle by die afgelope SA junior toutrekkampioenskap in Oudtshoorn behoorlik laat geld en van die topspanne lelik die skrik op die lyf gejaag.

Hoewel geen medaljes gewen is nie, het die meeste van die skool se spanne onder die toptien in die land geëindig.

Die 600 kg-span het die bronsmedalje net-net in drie trekke misgeloop.

“Dit was ’n titaniese stryd om daardie medalje, maar om die vierde beste 600 kg-span in die land te wees, is voor­waar ’n prestasie waarop Hoër­skool Strand, die Helderberg en die WP trots kan wees.

“Hierdie span was die WP-span wat die beste by die kampioenskap presteer het,” het een van die organiseerders gesê.

Die 560 kg-span het soos ’n masjien getrek, maar het uiteindelik net een punt nodig gehad om na die volgende ronde deur te dring. “Veral die 440 kg-meisiespan het gewys dat hulle baie potensiaal het en al die Arende se ander spanne het aandag met hul styl en gees getrek.”

Almal wat die voorreg gehad het om hierdie kampioenskap by te woon, was dit eens dat dit een van die mees emosionele kompetisies nog was.

“Die seniors het die juniors positief beïnvloed en gemotiveer om net hul beste as Arend-trekkers te gee. ’n Spesiale oomblik was toe van die gr. 12-trekkers hul toerusting aan die juniors oorhandig het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article