Die nuwe netbalafrigter van Hoërskool Parel Vallei wil netbalspelers help om hul menswees ten volle te ontgin, selfvertroue te kweek en – net soos haar eie netbalafrigters op skool – waardevolle lewenslesse oordra terwyl sy afrig.
Alida Duvenhage se hoofdoel is om netbal uit te bou, maar haar planne sluit ook in om leerders as netbalskeidsregters te ontwikkel om op só ’n manier deelname te bevorder deur ’n geleentheid te skep vir meisies wat nie netbal speel nie.
Sy het Dinsdag 2 Mei by PV aangesluit en is aan die stuur van netbal. Duvenhage is in Caledon gebore en het ’n BA-graad in menslike beweging (en HOD-nagraads) aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Sy is ’n professionele netbalafrigter en -skeidsregter en het in 2010 haar SA “A”-skeidsregtingsgradering ontvang.
Sy neem die leisels oor by Chrisna Alberts wat verloof geraak en na Namibië verhuis het.
Duvenhage het eers in die private sektor gewerk, waarna sy 27 jaar as ’n onderwyseres en netbalafrigter by die Hoërskool Kathu, Hoërskool Charlie Hofmeyer en Hoërskool Brandwag gewerk het.


