STRAND – John Abraham Rose, ’n bekende inwoner van Strand, is verlede Woensdag (15 April) in die ouderdom van 86 oorlede.

Oom Johnny, soos hy alombekend was, is in 1933 in Raithby gebore en het jare later na Rusthof, Strand, verhuis. Hy het in Junie 1953 met Susan Bekkers, ook van Raithby, in die huwelik getree en uit dié huwelik is ses kinders – drie dogters en drie seuns – gebore.

Oom Johnny het hom op ’n jong ouderdom by AECI as werker aangesluit en het tot en met sy aftrede by die maatskappy gewerk.

Hy was ’n kranige rugbyspeler wat enige posisie op die veld kon vol staan. Johnny is in Raithby aan die sport voorgestel, het hom later by die destydse Aurora-rugbyklub in Strand aangesluit en het die Somerset Board as lid van dié klub verteenwoordig. Met die stigting van die Wesley-rugbyklub was hy een van die spelers wat leiding geneem het, waar hy ook die veld met spanmaats soos Boeta Leiman Abels, Naftalie Engelbrecht, Jaap Bekkers, die Reiding- en Shield-broers en vele meer gedeel het.

Toe die Wesley-rugbyklub sy naam na Strand Liga verander het, het oom Johnny weer ’n integrale rol by die gemeenskapsklub gespeel. Sy rugbytalent en liefde vir die sport het ook sterk oorgespoel na sy drie seuns, Enver, Mervin en Nuegene.

Hy het in April 2006 sy vrou, Susan, aan die dood afgestaan, asook twee van sy dogters.

Hy word oorleef deur vier kinders, Charmaine, Mervin, Enver en Nuegene.

. ’n Begrafnisdiens word vandag (Donderdag 23 April) gehou. Die besigtiging is om 09:00 by die gesinshuis te Vyfdestraat 44, Rusthof, gevolg deur die kerkdiens ingevolge die inperkingsregulasies.

Q 13 Desember 1933 – 15 April 2020

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article