Drie toutrekspanne van die Hoërskool Strand het van Vrydag 23 tot Sondag 25 April aan die 2021 SA Junior Toutrekkampioenskap by Oakdale Landbouskool in Riversdal deelgeneem.
Vanweë die huidige pandemie is die nasionale kompetisie tot slegs die drie internasionale gewigsklasse (480 kg-meisies, 520 kg-gemeng en 560 kg-seuns) beperk, met die wenners van die onderskeie goue medaljes wat Suid-Afrika hopelik later vanjaar op internasionale vlak gaan verteenwoordig.
Die 480 kg-meisies was ongelukkig om nie ’n medalje te wen nie en het uiteindelik vyfde geëindig. Net so het die 520 kg-gemengde span, asook die 560 kg-seunspan algeheel sewende plekke behaal.
’n Verdere pluimpie is dat die Hoërskool Strand se administrasie saam met ’n ander klub as die beste van die toernooi uitgesonder is. Boonop is die 480 kg-meisies se uitmergelende wentrekke teen Hoërskool Swellendam as die beste van die hele kampioenskap aangewys.



