Die dramadepartement van die Hoërskool Parel Vallei het koning gekraai in die eindronde van die ATKV-Tienertoneel-kompetisie wat in die skoolvakansie by die Kunstekaap aangebied is.
Dié skool het nie net 10 benoemings en ses verskillende pryse gewen nie, maar die produksie Hansie Slim is ook aangewys as die nasionale wenner vir 2021. Die agt beste produksies van skole oor die land heen het mekaar van Woensdag 6 tot Saterdag 9 Oktober die stryd aangesê om uiteindelik die algehele wenner te bepaal. Beide PV-produksies, DORS en Hansie Slim, het na die eindronde deurgedring.
“Enige van die produksies kon gewen het. Elkeen is so uniek en vol lewe en daarom sê ek vir die kinders – wen is nie ’n trofee nie,” het Darryl Spijkers, die skool se kultuurhoof en die regisseur van die produksies, gesê. “Dit sê jy het goed gevaar, maar die regte oorwinning is die gevoel, die skep, die help, die bystaan en die vriende. Dit is elke kind wat kon speel, kon waag, iets nuut kon probeer of van hulself kon leer, die persoonlike groei en die gevoel van behoort.”
PV se 10 benoemings in die ATKV Tienertoneel-eindronde sluit in:. Beste verhoogbestuurder: Jelena Jerling (DORS). Beste verhoogbestuurder: Jelena Jerling (Hansie Slim). Beste klankoperateur: Lindsay Adams (Hansie Slim). Beste hantering van tegniese aspekte: Hansie Slim. Beste hantering van tegniese aspekte: DORS. Mees belowende spel in ’n rol: Odia Tshilumbu (Hansie Slim). Beste ensemblewerk: Hansie Slim. Beste ensemblewerk: DORS. Beste regisseur: Darryl Spijkers en Bryoni Curren (Hansie Slim). Beste produksie vir 2021
Die pryse waarmee die twee produksies weggestap het, is: beste verhoogbestuurder vir DORS; beste hantering van tegniese aspekte vir Hansie Slim; beste ensemblewerk vir Hansie Slim; beoordelaarstoekenning vir veelsydigheid in teater-elemente; beste media- en bemarkingsportefeulje-inskrywing vir DORS,Hansie Slim en Verkleurmannetjie en nasionale wenner vir 2021 vir Hansie Slim.
Die PV-leerder Juné Kruger het die beoordelaarsprys vir veelsydigheid in teater-elemente gewen vir haar spel in beide Hansie Slim en DORS, asook haar bydraes tot die produksies ten opsigte van musiekregie, sang, dans en choreografie.
PV het ook die splinternuwe prys vir beste media- en bemarkingsportefeulje-inskrywing gewen vir Hansie Slim,DORS en die slegs-leerders-produksie Verkleurmannetjie.



