By die PV-gelukbringers Bella en Butch, die bulhonde, en HS-gelukbringer Kuiken, is Christian Kotzé (PV-kaptein), Ashton Samuels (HH-kaptein), Caitlin Wyngaard (HS-kaptein), Daniel du Toit (takbestuurder van Dis-Chem Somerset Mall), Marietjie Cilliers (PV-kaptein), Gino Cupido (HS-kaptein) en Kelsey Appel (HH-kaptein).Foto: Jamey Gordon


Atletiekkoors loop hoog hier in die Helderberg terwyl die Hoërskole Parel Vallei, Hottentots-Holland en Strand voorberei vir die jaarlikse Dis-Chem Interskole-kragmeting wat more (Vrydag 18 Februarie) plaasvind.

“Ons is dankbaar om terug te wees en sien uit na opwindende atletiek in die goeie sportmangees wat ons leer ken het oor meer as 30 jaar se vriendskap. Die gesamentlike gees bring iets besonders na hierdie jaar se Interskole en die dag is werklik ’n dankbare viering van lewe, oorlewing en ons leerders se veerkragtigheid,” sê David Schenck, skoolhoof van Parel Vallei, wat die gasheer is van hierdie jaar se interskole.

Die takbestuurder van Dis-Chem Somerset Mall, Daniel du Toit, sê: “Dit is ’n voorreg om vir die 15de jaar betrokke te wees by ’n sportgeleentheid wat ’n gesonde en aktiewe leefstyl bevorder. Ongeag wie wen of verloor, net die deelname van meer as 600 atlete maak van almal kampioene.”

Vir die spankapteins is hierdie ook die afsluiting van hul atletiekloopbaan by hul onderskeie skole en het hulle elkeen ’n boodskap op die hart soos hulle Vrydag op die baan draf vir hulle verskillende items.

“Vir die persoon wat nooit ophou veg nie, is oorwinning altyd moontlik en daarom is deursettingsvermoë een van ons kernwaardes by Parel Vallei. Ons moedig ons Parel Valleiers aan om met TUNGU (Turn Up Never Give Up)-gees op te daag en altyd hul talente met harde werk te bly ontwikkel. Ons sien uit om die gees van interskole-atletiek wat ons almal saambind, weer terug te bring hierdie jaar,” sê Parel Vallei se atletiek-kapteins Christian Kotzé en Marietjie Cilliers.

Ashton Samuels en Kelsey Appel van die Hoërskool Hottentots-Holland voel sport bied soveel geleenthede vir leerders en leer hulle toewyding, sportmangees en deursettingsvermoë. “Hierdie bly een van die geleenthede waarna ons almal elke jaar die meeste uitsien en is ons kans om ons skool se talent en gees met ander te deel. Dit is ’n eer om ons skool op die baan en veld te kan verteenwoordig.”

“Atletiek is die bousteen om skooltrots en eenheid te bevorder,” sê Gino Cupido en Caitlin Wyngaard van die Hoërskool Strand. “Net die poging wat elkeen wat vandag hier deelneem, aanwend om ’n droom te laat realiseer of ’n doel te bereik, maak al klaar van ons wenners. Ons is dankbaar vir almal wat dit vir ons moontlik maak om deel te neem en vriendskapsbande te versterk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article