Cherolene Solomons en haar jonger suster, Nichola Damon (28), kyk deur die venster van die slaapkamer waar die brand uitgebreek het na die oorblyfsels van al hul besittings wat in die noodlottige voorval vernietig is en verstrooid voor die woonstelblok lê.Foto’s: Jamey Gordon


’n Verwoestende brand by ’n woonstel in Macassar het die lewe van ’n bejaarde broodwinner geëis en ’n huisgesin van 16 haweloos gelaat.

Die voorval het Maandag (21 Februarie) in die vroeë oggendure by die B1-woonsteblok in Dohstraat uitgebreek. Die Solomons-familie se tweeslaapkamer-woonstel is in die brand verswelg. Die vyf sibbe en hul 11 kinders het daarin geslaag om van die vlammehel te ontsnap, maar hul 70-jarige patriarg kon nie gered word nie – Jacob Solomons het ’n vlammedood gesterf.

Cherolene Solomons het met DistriksPos se besoek aan die toneel vertel hul pa, wat met gestremdheid en swak sig saamgelewe het, is oudergewoonte omstreeks 16:00 kamer toe om te gaan lê. Sy het verduidelik hy word gereeld hierdie tyd rustiger voordat hy omstreeks 20:00 inkruip.

Die 33-jarige Cherolene, wat ’n kamer met haar pa en ses kinders deel, het egter die aand van die brand in die voorhuis geslaap. “Ons het almal so 22:30 gaan slaap. Ek het wakker geword toe die rook al dik en die vlamme hoog was. Ek het onmiddellik uitgehardloop,” het sy gesê.

“Buite het ek besef almal behalwe my pa het uit die brandende woonstel gevlug. Ek het die skare gevra om hom uit die woonstel te red, maar dit was te laat.”

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste, sê hulle is om 01:45 ontbied. Brandweerspanne van Strand, Macassar, Khayelitsha, Mfuleni en Somerset-Wes het op die voorval reageer en altesaam 25 brandbestryders het onverpoos gewerk om die brand te blus.

“Brandbestryders het omstreeks 02:20 op die liggaam van ’n volwasse man afgekom wat noodlottige brandwonde opgedoen het,” het hy aangevoer.

Volgens Carelse is die Solomons-woonstel heeltemal in die brand vernietig en naburige woonstelle, waaronder vyf op die derde verdieping en een langsaan op die tweede vloer, is beskadig.

“Die brand is om 02:51 geblus en die toneel is aan die polisie oorhandig.”

Die Macassar-polisie het bevestig ’n geregtelike doodsondersoek is geopen.

Volgens Cherolene het die brand in die kleiner van die twee slaapkamers ontstaan. Die krag was dié aand af en ’n kers het in die kamer omgeval.

“Hy moes probeer het om uit te kom, maar weens sy gestremdheid, wat sy mobiliteit belemmer het, en die verlies van sig in een oog, het dit bemoeilik.”

Cherolene het haar pa beskryf as ’n stil mens wat nooit kwaad geword het nie en lief was vir sy kleinkinders. “Ek mis veral sy geskel,” het sy bygesê.

Sy en haar pa het saam die huishouding behartig, inkopies gedoen, kos gekook en skoongemaak.

Rosie Demas, ’n gemeenskapsaktivis, het gesê Solomons het met sy pensioen vir al sy kinders en kleinkinders gesorg.

“Hy het ’n pad saam met hulle geloop.

“Hy sal onthou word vir sy bedagsaamheid en dat hy altyd gegroet het,” het Demas gesê.

Sy het namens die familie hul dankbaarheid uitgespreek teenoor die plaaslike wyksraadslid, Peter Helfrich, wat ná die voorval alles in sy vermoë gedoen het om die familie tegemoet te kom en te help. Demas het voorts gesê Helfrich het ook kospakkies aan die familie geskenk en berading gereël.

Demas het ook erkenning gegee aan verteenwoordigers van die Greater Macassar Civic Association vir hul steun en lede van die Walking Bus wat die kinders Dinsdagoggend elk van ’n bakkie pap voorsien het.

“Ons doen ’n beroep op die Macassar-gemeenskap om die bedroefde familie te ondersteun. Doen weg met die kies en keur – nood is nood en ons moet help waar ons kan,” het sy aangespoor.

Volgens Cherolene is sy en haar gesinslede deur familielede ingeneem, maar twee vraghouers is ingerig waar hulle vir tyd en wyl kan woon.

’n Begrafnisdiens word vir Solomons gereël. Hy word oorleef deur sy kinders, Henry (40), Darrius (39), Claudine (37), Cherolene (33) en Nichola Damon (28) en sy kleinkinders, Robert (20), Granwill (17), Sergio (13), Whalito (13), Renaldo (11), Ronaldino (11), Lorenzo (agt), Anastacia (ses), Nikita (drie) en Fenecia (een).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article