Informele strukture wat langs die Lourensrivier in Sergeantstraat, Somerset-Wes, opgerig is.


Nadat tientalle inwoners van Garden Village en Lourensiapark voorverlede week in protes opgeruk het in teenkanting teen die moord op boorling Carmen Pienaar en haweloses wat hulle op die Lourensrivier se oewers in Somerset-Wes vestig, het die Stad Kaapstad eindelik vandeesweek op die brandende kwessie kommentaar gelewer.

DistriksPos het verlede week berig dat betogers in hul massas in omgewings waar informele strukture opgeskiet het, sigbaar was. Die groep het die “Wrong Turn”-gebied (agter die verkeer-toetssentrum in Victoriastraat) besoek waarna hulle na Sergeant-straat beweeg het (“Betogers praat uit oor haweloosheid”, 24 Februarie). Dit nadat ’n moontlike verdagte wat na bewering onder die klomp wat hulle op die oewers van die Lourensrivier in Somerset-Wes gevestig het, in verband met Pienaar se moord in die oog was.

Die moontlike verdagte kon, volgens die polisie, toe nie met die noodlottige messteekvoorval verbind word nie. Die voorval was Maandag 14 Februarie in ’n stegie in die Gants-sentrum waar Pienaar se lewe geëis is (“Ma dood ná messtekery”, 17 Februarie).

Samuel Boonzaaier, ’n Garden Village-gemeenskapsaktivis, het uitgepraat oor die moord op “een van hul eie, ’n geliefde kind van Garden Village”, wat hulle tot aksie gedwing het.

Volgens Boonzaaier veroorsaak die “inkommers”, wat op die rivier-oewers bly, ’n groot probleem – nie net vir wetstoepassing nie, maar ook die polisie, omdat hulle by misdaad betrokke is.

“Ons doen ’n beroep op inwoners om ag te slaan op ons situasie. In die geval van enige misdade wat gepleeg word, word gesê dis weer Garden Village of Lourensiapark se mense. Neem die mense wat teen die rivier plak, in ag. Hulle is die skuldiges wat ons naam beswadder.”

Carl Punt, ’n plaaslike raadslid, het by navraag gesê: “Aangesien ek altyd mense verwelkom om te praat of vreedsame betogings te hou en oplossings te gee vir probleme wat ons in die gesig staar, kan ek nie enige aksie ondersteun waarin eiereg gebruik word of wat buite die oppergesag van die reg is nie. Ons staar ’n hawelosekrisis in Suid-Afrika in die gesig, die Stad en ook in die Kom, nadat mense hul werk verloor het of na die stad kom om beter geleenthede te soek. Die werkloosheid is buite beheer en ekonomies sukkel ons en staar ons steeds inperkingsregulasies in die gesig.”

Gevra wat die Stad doen om hierdie mense te keer om woonplekke langs die Lourensrivier op te rig, het Punt verduidelik dat die Stad die oppergesag van die reg, die SA Grondwet, volg en hou by hofbeslissings soos dié van Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) wat verhoed dat die Stad in die inperkingstydperk optree waar onwettige strukture op Stadseiendom opgerig word.

“Met hierdie moeilike taak en om verantwoordelik te wees, het die Stad meer geld aan die haweloseprobleem wat ons ervaar, toegewys,” het hy gesê.

Volgens Punt kan inwoners sulke probleme, soos onwettige strukture, by 021 480 7700 aanmeld en die Stad help om die probleem die hoof te bied.

Patricia van der Ross, ’n raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het gesê die gebied langs die Lourensrivier is ’n brandpunt en ’n span van die departement maatskaplike ontwikkeling en vroeëkinderontwikkeling skakel gereeld met die mense wat op straat woon.

“Hulle word gelei en bygestaan ??met die ideale doel van herintegrasie, maar hulle kan nie gedwing word om aanbiedinge van hulp te aanvaar nie,” het Van der Ross verduidelik.

Sy het inwoners aanbeveel om koopbewyse by organisasies soos die nagskuiling in Somerset-Wes te koop om straatmense te steun.

Wayne Dyason, ’n woordvoerder, het gesê plaaslike wetstoepassing het gereelde bedrywighede in die gebied en indien enige wette oortree word, word boetes uitgereik. Die laaste optrede in die gebied was verlede Dinsdag (22 Februarie) toe 70 boetes uitgereik is en iemand vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is.

“Die strukture kan nie verwyder word as dit reeds gebou en bewoon is nie. Dit is as gevolg van die Rampbestuurswet en ook hofbevele wat die aksies wat ons kan neem, beperk,” het hy verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article