Die toutrekkers van die Hoërskool Strand het dié skool se naam hoog gehou tydens die jaarlikse WP/Wynland junior-toutrekkampioenskappe.

Credit: SYSTEM

Hoërskool Strand se toutrekkers het Saterdag 5 Maart uitstekend tydens die WP/Wynland junior-toutrekkampioenskap presteer. Met 164 spanne en meer as 700 toutrek-atlete wat aan die kompetisie deelgeneem het, is vier spanne as vanjaar se WP-kampioene aangewys.

Die Arende het goed gevaar, met veral die skool se twee ligter spanne (440 kg en 480 kg) wat almal verras het toe hulle as die WP-kampioene wegstap. Die onoorwonne 520 kg-gemengde span van die Hoërskool Strand moes uithaal en wys om die provinsiale titel uit die hande van die gedugte Jan Kriel Skool-span te trek.

Met die laaste twee gewigsgroepe van die dag het HS se 560 kg-seunsspan dié skool se vierde WP-titel van die dag verower en die 480 kg-meisiespan het die algehele vierde plek behaal, maar die algehele titel net-net gemis.

Nog ’n verblydende faktor was die uitstekende wyse waarop die HS-plaatspanne gevaar het, met die 560 kg- en 600 kg-spanne wat onderskeidelik silwer en goue medaljes ontvang het.

Net so het die ontwikkelingsarm van die Arende se “kaalvoete” (laerskool-toutrekkers) uitstekend presteer deur drie brons medaljes te verower.

Met alle provinsiale kampioenskappe wat oor die land heen afgehandel word, skuif die fokus nou na finale afronding en oefenkampe met die oog op die Suid-Afrikaanse junior-toutrekkampioenskap oor twee weke.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article