Die maatskappy van die sakeman van Somerset-Wes wie se liggaam op Vrydag 4 Maart by Grotto-strand in Hermanus gekry is, is in voorlopige likwidasie geplaas nadat hy glo miljoene uit sekere klante se beleggings sonder hul toestemming onttrek het.
’n Bottel gif is naby aan Hendrik Gerryts, die 54-jarige besturende direkteur en stigter van HGG Finansiële Groep, se liggaam gevind (“H’berg sakeman in tragedie geëis,” DistriksPos, Donderdag 10 Maart).
Volgens hofstukke is Gerryts se maatskappy HGG Finansiële Groep Ingelyf voorlopig gelikwideer nadat miljoene rande weggeraak het. Soos verduidelik in hofstukke is Gerryts se dood ’n bevestiging dat sy firma insolvent is. Gerryts het ook opgetree as fondsbestuurder vir ’n konstruksiemaatskappy in die Helderberg wat R9 miljoen belê het by hom. Die maatskappy het ook ’n likwidasie-aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien. In die aansoek verduidelik die maatskappy Gerryts het op 22 en 24 Desember onderskeidelik R1,35 miljoen en R800 000 sonder sy kliënt se toestemming uit die beleggings onttrek.
Bokkie Duvenage van Duvenage en De Villiers-prokureurs, wat vir die konstruksiemaatskappy optree, het bevestig dat Gerryts se persoonlike boedel nou in die hofsaak aanspreeklik is.“Vir ons kliënt is die geluk by die ongeluk die feit dat HGG Finansiële Groep Ingelyf ’n professionele maatskappy is, of ingelyf is, soos daarna verwys word. Dit beteken Gerryts se persoonlike boedel is nou aanspreeklik,” sê Duvenage.
In ’n onlangse persverklaring wat deur die HGG Groep uitgestuur is, verduidelik hulle die HGG Finansiële Groep Ingelyf is onder die alleen-direkteurskap van Gerryts.
“HGG Finansiële Groep Ingelyf het geensins aandele, belange of bestuursbetrokkenheid by die groter HGG Holdings-maatskappy nie,” lui die verklaring.
By HGG Finansiële Groep se tak in Somerset- Wes by Faganstraat 10 is al die HGG-naamborde verwyder en kan ’n mens net ’n verbleikte HGG-naam voor die hoofingang sien. “Met die skokkende heengaan van Gerryts, uitvoerende hoof van die HGG-groep maatskappye, waarvan een die maatskappy HGG Holdings is, het nie net ’n lewe geëindig nie, maar ’n finansiële instelling gebou op vertroue van byna ’n kwarteeu het ook ten einde geloop,” lui die verklaring.
Die HGG Finansiële Groep het lank die Tyd met Aleit-program op kykNET, DStv se kanaal 144, geborg. Aleit Swanepoel, die aanbieder van die program, woon in Somerset-Wes, maar wou geen kommentaar oor Gerryts lewer nie.
“Die Aleit-groep is net so geskok oor die nuus wat sedert die afsterwe van Henrik Gerryts ontvou. Die HGG-groep was in die verlede een van die borge van die program Tyd met Aleit,” sê Hans Roosenschoon, uitvoerende hoof van die Aleit-groep.
’n Familievriend van Gerryts, wat verkies om anoniem te bly, sê hy het Hendrik en sy vrou, Karin, as sagte en uiters beskaafde mense geken. “Hulle het ’n hart vir mense en in my en ’n paar van my kunstenaarsvriende se geval altyd ’n oop deur en ’n oop hart met borgskappe en ondersteuning gehad. Ek kan nie kommentaar lewer oor wat verkeerd geloop het nie. ’n Mens kan nooit alles weet nie, maar ek sal Hendrik altyd onthou vir sy onberispelike maniere, sy sagtheid, beskaafdheid en ook sy betrokkenheid by aksies om minderbevoorregtes op te hef. Dit sal bo alles uitstaan.”
HGG Finansiële Groep rig alle navrae van die publiek aan Nico le Roux van Miller Bosman Le Roux-prokureurs by 021 840 8000.



