Helderberg het die fgelope Saterdag op Constantia sterk teruggekom in die tweede helfte ná ’n 19-0-agterstand teen rustyd.

Ná die omdraai het die momentum na die besoekers geswaai, wat uiteindelik die eindfluitjie met die telling op 24-19 gehoor het.

Valsbaai het vroeg ’n verdoelde drie gaan druk en ná konstante druk met nog sewe punte opgevolg (14-0).

Kort voor rustyd het hy teen die verloop van die spel met ’n onderskepdrie nog vyf punte bygevoeg (19-0). Berge se skrumskakel, Michael Visser, het sy span se rekening met ’n giftige breekslag vir ’n drie geopen.

Die doelskop het nie geslaag nie (19-5). Valsbaai het ook met ’n onverdoelde drie (24-15) gereageer. Die tuisspan se baie swaarder agttal het begin swaarkry teen Berge se beweeglike voorspelers.

Puik tussenspel van die heelagter Donvino Swartland en regtervleuel Jody Koul, van binne Berge se helfte, het gelei tot Koul se drie onder die pale. Visser het verdoel (24-12).

’n Vinniger bal van die skrumskakel Visser deur die hande van Marshall Douman is wyd gespeel en Swartland (heelagter) het raakgevat en die doellyn in die hoekie oorgesteek. Visser se skitterende doelskop van die kantlyn het die telling 24-19 gemaak en die tuisspan het ’n gesamentlike sug van verligting geslaak.

Talle gelukwensings aan Valsbaai is ná die taai wedstryd gehoor.

Die uitblinkers vir Berge was gewis sy lostrio, sy agsteman en kaptein Conway Pretorius en sy flanke Dua Groenewald en Schalk Burger. Ook sy haker, Jurgen Dorfling, se werketiek het die oog gevang. Agter was Visser, Koul en Swartland skitterend op stryk.

Ander uitslae:

Valsbaai II wen 26-7; Valsbaai III wen 22-14; Valsbaai se o.20A’s wen 14-10. Valsbaai is een van die top-Super-A-klubs, dus is Helderberg se punteverskille (vir wegwedstryde) glad nie sleg nie. Hierdie week se reëlings insluitend vier wedstryde word beplan vir Vrydagaand, afhangende van beurtkrag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article