Die koeël wat in Curtley Adams (21) se laerug gevind is. Foto:


’n Jongman van Broadlandspark in Strand moes vyf dae lank met ’n koeël in sy rug by die huis op ’n operasie wag nadat hy in ’n vermeende bendeverwante skietvoorval geskiet is.

Curtley Adams (21) is op Saterdag 5 Maart in Finkstraat geskiet nadat hy koeëls gekeer het wat vir sy vriend bedoel was (“Seun in koeëlreën gewond,” DistriksPos, Donderdag 10 Maart).

Gawie Adams, Curtley se pa, is verlig dat sy seun die operasie ondergaan het om die koeëls te verwyder, maar hy vrees nou vir sy seun se lewe omdat gerugte die ronde doen dat die bendes nou hul oë op sy seun het. “My seun bly tans in ’n ander gebied by sy ouma omdat ek vrees vir sy lewe. Ek is bereid om self die polisie te help deur onwettige vuur­wapens te soek en so ‘gangsterism’ te stop.”

Hy vertel sy seun is onnodig geskiet.

Die Strand-gemeenskapspolisiërings­forum veroordeel al die moorde en skietvoorvalle wat tussen die bendelede van die So, So en die Terribles plaasvind. Die bendes is bekend in Broadlandspark.

Francina Lucas, voorsitter van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), maan die gemeenskap om hande met die GPF te vat om die verhouding tussen hulle en die gemeenskap te verbeter. “Alle vorms van misdaad en verdag­te optredes van enige mens moet by die plaaslike polisiekantoor aangemeld word sodat aandag aan die kwessies geskenk kan word en aksie geneem kan word,” sê Lucas. Strand-GPF wil ook hê die plaaslike polisiekantoor moet alle bendeverwante skietvoorvalle en moorde prioritiseer en weer gaan kyk na al die sake wat hiermee verband hou. Die GPF het ook gevra dat die polisie ’n bende-taakspan moet saamstel om sodoende bendeverwante misdaad hok te slaan.

“Ons rig ook ’n versoek aan die Strand-polisie om meer hulpbronne uit ander wetstoepassings­agentskappe asook die polisie se teen-bende-eenheid te bekom om te verseker dat die polisie meer sigbaar is in hoërisikogebiede waar die bendes bedrywig is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article