Vervolg van bl.1
Die volgende bekommernisse is in die mandaat gelys: . Die besluit om Plaatjies te herontplooi, gaan ’n negatiewe uitwerking op die gehalte asook die doeltreffendheid van dienslewering in ons polisiëringsgebied hê. . Plaatjies vervul tans ’n belangrike rol in die oorgangstydperk by die Strand-polisie juis omdat die nuwe stasiebevelvoerder nog net twee maande agter die blad het. Die Strand-GPF is van mening dat Plaatjies sterk leierskap en ondersteuning bied aan die nuutaangestelde stasiebevelvoerder. . Die Strand-GPF is van mening dat die herontplooiing van Plaatjies die vloei van kommunikasie tussen die polisie en die gemeenskap rakende bendes en hul aktiwiteite gaan onderbreek. Van die kritiese inligting hier kan lei na die suksesvolle vervolging van bendelede en bendeleiers in Strand. . Plaatjies is, volgens die Strand-GPF, bekend met hoe die bendes werk. Volgens ou verslae van die polisie is Plaatjies en sy span speurders verantwoordelik vir die suksesvolle vervolging van baie bendelede en bendeleiers in die verlede. Plaatjies se herontplooiing sal die Strand-polisie se suksesse in die stryd teen bendeverwante-misdrywe en aktiwiteite tot niet maak. . Die Strand-GPF is ook van mening dat Plaatjies se herontplooiing ’n negatiewe impak op die moraal by die polisiekantoor, wat nog in ’n oorgangsperiode onder die nuwe leierskap is, sal hê. . Die Strand-GPF is ook van mening dat die aankondiging om Plaatjies te herontplooi, besig is om ’n groot nood te veroorsaak onder die gemeenskap, belanghebbendes en ander rolspelers in die gevegte teen misdaad in Strand se polisiëringsgebiede.
Volgens Beaton is Plaatjies se verplasing ’n tydelike stap wat gedoen is in die belang van dienslewering in Khayelitsha.
“Ons het met al die onderskeie rolspelers vergader, asook lt.genl. Patekile, om oor lt.kol. Plaatjies se herontplooiing te praat,” sê Beaton.
Zora Motasi van Vroue in Aksie is hartseer oor die nuus dat Plaatjies herontplooi is.
“Ons het ’n goeie werksverhouding gehad. Plaatjies het baie goeie werk in die Strand gedoen. Hy het ons baie met veral sake oor geslagsgebaseerde geweld gehelp.
“Dis sleg vir ons gemeenskap, maar ek wens lt.kol. Plaatjies als van die beste op sy pad vorentoe. Ek hoop wie ook al hom vervang, is bekwaam genoeg om in lt.kol. Plaatjies se voetspore te kan volg.”
Jannie Frieslaar, ’n Broadlandspark-gemeenskapsaktivis wat betrokke is by Strand-GPF, sê hy het nog nooit in sy 25 jaar by die GPF saam met só ’n goeie speurhoof as Plaatjies gewerk nie.
“Hy (Plaatjies) het lank as waarnemende stasiekommissaris ingestaan en ek het gedink hulle sou die pos vir hom gee, want hy het dit so goed gedoen.”
Frieslaar sê Plaatjies het die hele gemeenskap bedien.
“Almal het Plaatjies se nommer gehad. Hy was altyd bereid om enigiemand te help. Ons is baie ongelukkig oor sy herontplooiing.”


