Die gemeenskap van Strand, wat jaar op jaar gebuk gaan onder bendeverwante skietmoorde, is erg ontsteld nadat ’n toegewyde speurhoof, wat dié soort misdade hokgeslaan het, ’n week gelede by ’n ander stasie begin het.

Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Strand het sy misnoeë uitgespreek oor die Strand-polisie se besluit om luitenant-kolonel Franklin Plaatjies by ’n informele nedersetting in Khayelitsha te herontplooi. Plaatjies het vir baie jare pligsgetrou die gemeenskap, wat geteister word deur skietvoorvalle waarin veral jongmense geëis word, gedien en eindelose moeite oor die bestek van jare gedoen om vertrouensverhoudings met gemeenskapslede te bou om te help om hierdie geweld te bekamp en veiligheid in die gemeenskap te bevorder.

Plaatjies was ’n wapen in die polisie se arsenaal om bendeverwante misdade – veral in die berugte Broadlandspark – te bestry. Dié gemeenskapsbate het egter ’n week gelede met sy nuwe pos in Khayelitsha begin.

Volgens Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand-GPF, gaan die besluit van die polisie al Plaatjies se harde werk met die bendes en om bendeverwante misdaad te verlaag, onklaar maak. Plaatjies het volgens die Strand-GPF as speurhoof by die Strand-polisie daarin geslaag om gemeenskappe soos Broadlandspark te oortuig om hul samewerking aan die polisie te bied en nog meer uit te praat oor die misdade wat gepleeg word.

Die Strand-GPF het Donderdag 17 Maart ’n mandaat aan lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaap se provinsiale polisiehoof; generaal-majoor Vincent Beaton, bevelvoerder van die Blue Downs/Khayelitsha/Tygerberg-groepering; asook kol. Khunjulwa Khanyile, stasiebevelvoerder van Strand-polisie, aangaande die verlies weens sy herontplooiing gestuur.

In die mandaat kla die Strand-GPF dat die polisie nie eens met hom vergader het om hom van die verwikkelinge in kennis te stel nie of daaroor te praat nie.

Volgens Beaton kan die Strand-GPF niVe aan die bestuur van die polisie voorskryf oor die oordrag van polisieoffisiere na ander polisiekantore nie. “Neem asseblief kennis dat die verplasing van beamptes ’n bestuurs-prerogatief bly,” sê Beaton. – Vervolg op bl.2

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article