Die ingang na die huis in Jakarandastraat wat in Hendrik Gerryts se insolvente boedel is. Foto: Rick Marais


’n Voorlopige sekwestrasiebevel is in die hooggeregshof in Kaapstad teen die bestorwe boedel van Hendrik Gerryts toegestaan.

Op Vrydag 4 Maart is Gerryts, die 54-jarige besturende direkteur en stigter van die HGG Finansiële Groep, se liggaam op Grotto-strand in Hermanus gevind (“H’berg sakeman in tragedie geëis,” DistriksPos, 10 Februarie). Dae ná sy dood het sekere van sy beleggers agtergekom dat miljoene rande uit hul beleggings onttrek is sonder hul toestemming (“Gerryts se dood: Miljoene glo weg,” 17 Maart). Die hofsaak het op Dinsdag 22 Maart voorgekom met regter John Hlophe op die bank.

’n Voorlopige sekwestrasiebevel is ook toegestaan teen die Henka-familietrust vir wie Karin Gerryts en Petro Hartman as trustees optree. Karin (gelys as tweede respondent in die hofaansoek) het per ooreenkoms met ’n paartjie van Europa wat glo R43 miljoen verloor het, ingestem dat die boedel voorlopig gesekwestreer word. Dis nou die meester van die hof se werk om voorlopige trustees vir die boedel aan te stel. Die hofbevel lui ook die balju moet ingevolge die insolvensiewet beslag lê op alle eiendomme in die insolvente boedel en dit daarna by die meester van die hof aanmeld.

Tans is die enigste eiendom in Hendrik se insolvente boedel ’n huis by Jakarandastraat 23 in Somerset-Wes.

Volgens hoogs vertroulike verband-dokumente wat aan Distrikspos gestuur is, is daar ses huise in die Henka-familietrust se naam geregistreer.

Die huis in Jakarandastraat is op 13 Desember 2006 vir R2,2 miljoen gekoop. Op 31 Mei 2007 is ’n verband vir R2,2 miljoen by Firstrand Bank op dieselfde huis uitgeneem. Die ander eiendomme is onderskeidelik in Onrus en die V&A Waterfront in Kaapstad. Die huis bo-aan die verband-lys is ’n R21 miljoen-huis in Onrus. ’n Verband van R10 miljoen is op 3 Desember 2021 by Nedbank uitgeneem.

Die keerdatum vir die hofsaak is 26 April en tot en met die datum het enige party die reg om die finale sekwestrasie van die boedel teen te staan. Die boedel is in voorlopige sekwestrasie geplaas om die respondente in die saak en ander belanghebbendes die kans te gee om aan te dui of die sekwestrasie finaal gemaak moet word of nie.

Karin Gerryts is gekontak vir kommentaar, maar het teen druktyd nog nie op die versoek gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article