Die Helderberg gaan binnekort sy eie huis van veiligheid kry wat ’n herberg gaan wees vir vroue wat onder geslagsgeweld deurloop.

Elma Potgieter, die stigter van Abigail’s Haven, ’n nie-winsgewende-organisasie (NGO), vertel slagoffers van geweld in die Helderberg moes in die verlede Stellenbosch of Hermanus toe gaan, hier was nêrens ’n plek van veiligheid in die Helderberg-omgewing nie.

Die adres van die huis van veiligheid gaan nie aan die publiek openbaar word nie juis vir die veiligheid van die vroue en kinders.

“Ek kom self uit ’n agtergrond van misbruik en waar my hart en passie is, is om die vroue en kinders nie net te help nie, maar om hulle daar uit te kry. Uit daardie situasie uit,” sê Potgieter.

Sy het verlede jaar haar life-coaching-sertifikaat gekry.

“Ek wou nog altyd met vroue werk en daar is gereeld vroue wat hul lewe wil verander, maar hulle het nêrens om te gaan nie. Dis waarom ons Abigail’s Haven op die been gebring het.”

Abigail’s Haven is by die departement van maatskaplike ontwikkeling as ’n NGO geregistreer en hulle is besig met hul openbare weldaadsorganisasie (OWO)-sertifikaat wat organisasies in staat sal stel om skenkings te maak en dit dan van belasting te eis.

“In die raad het ons twee dokters, ’n geoktrooieerde rekenmeester en in die uitvoerende raad dien ek asook iemand wat ons help met pastorale sorg en ’n advokaat wat ons help met die regs-kant. Dan het ons ’n prokureur wat die vroue en kinders gaan help en hul regte vir hul verduidelik, want meeste kere weet die vroue nie watter regte hulle het nie.”

Die tweede deel van Abigail’s Haven is om gemeenskapsondersteuning aan die gang te kry.

“Die vroue het geen ondersteuningsraamwerk nie, want in die gevalle sluit die abuser jou heelte­mal af van die res van die wêreld. Jy het nêrens heen om te gaan nie. Ons wil daar wees vir daardie slagoffers.”

Hulle beoog ook om ’n hutsmerk, #noexcuseforabuse, op die been te bring en besighede aan boord te kry wat die hutsmerk-naamborde voor hul ondernemings sal opsit en as ’n vrou op straat agtervolg word en wil wegkom dan kan sy gaan aanklop by een van die besighede.

“Die naam Abigail’s Haven het ’n spesiale mening, want dit kom uit die Bybel. Abigail was getroud met ’n nare man. Voor Dawid in die Bybel koning geword het, het hy en sy bemanning gaan aanklop by die man op soek na blyplek. Die man het hul weggejaag en hy het sy manne beveel om vir Dawid te gaan vermoor.

“Die nare man se vrou Abigail het hiervan te hore gekom en te perd vooruit gejaag om vir Dawid te gaan waarsku. Sy het hom gevra om haar te onthou as hy koning word. Toe oorwin Dawid en sy soldate die man en Dawid het toe met Abigail getrou as sy eerste vrou.”

Potgieter vertel mishandeling kom oral voor, nie net in plakkerskampe nie.

“Ons wil mense betrokke kry, want mishandeling is ’n swartskaap in die samelewing. Niemand praat daaroor nie en emosionele en sielkundige mishandeling vind meer gereeld plaas as fisieke mishandeling.”

V Vir meer inligting kontak Abigail’s Haven by 083 486 5428 of stuur e-pos na help@abigailshaven.org.za of besoek hul webtuiste by www.abigailshaven.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article