Helderberg se Michael Visser is te laat om die Luius se Eldon Hess te stop.Foto’s: Peter Bee


Die verwagte taai kragmeting tussen twee van die streek se voorste klubs, Helderberg en St. George’s, het Saterdag (2 April) seepglad voor ’n geskatte 2 000 toeskouers in die Charles Morkel-stadion verloop.

Die eindtelling van 11-8 in Berge se guns weerspieël presies hoe gelykop die spel was en die uitslag was tot die eindfluitjie in die weegskaal.

In die negende minuut, met windvoordeel, was die tuisspan 3-0 voor ná ’n strafskop deur sy skrumskakel Michael Visser.

In die 16de minuut slaag St. George’s se heelagter Marco Anderson ook met ’n strafskop (3-3).

In die 27ste minuut, ná die goeie spel van sy agttal op die Lulu Boys se doellyn, stuur Visser sy vaskopstut, Theodore Ntikinca, oor die doellyn vir ’n onverdoelde drie naby die hoekvlag (8-3).

In die 39ste minuut speel St. George’s se losskakel, Armien Bailey, die bal wyd en sy senter Eldon Hess duik oor in die “Castle Corner”. Die rustydtelling was gelykop 8 elk.

Die tweede helfte verloop baie soos die eerste, albei spanne gee mekaar min beweegruimte en die verdediging blyk ondeurdringbaar te wees.

In die 48ste minuut slaag Visser met sy tweede strafdoel om Berge weer voor te laat loop (11-8).

In die 71ste minuut breek die plaasvervanger-senter Luke Hertz deur, maar twee meter voor die doellyn struikel hy en verloor besit. Die eindfluitjie blaas met die tuisspan wat nou spog-regte het tot die twee spanne weer ontmoet.

Die spelers wat vir St. George’s uitgestaan het is die senter Dimetri Hendrickse en flank Alvino Anthony. In die lynstane was die kaptein Kyle Bender uitsonderlik. Vir Helderberg was sy skrumskakel Visser en su flank Naym Jansen die beste spelers.

Die tweede span se wedstryd het gelykop 20 elk geëindig, met driedrukkers vir Berge Ovain Engelbrecht, Matt Hindley en Jody Halford, wat ook ’n strafdoel byvoeg, en ’n doelskop van Abdullah Galant. Drieë vir die Lulus is deur Cheslin Julius, Marco Jacobs en Patrick van Wyk, wat ook met ’n strafdoel slaag, gedruk. Curtley Hendricks voeg ’n doelskop by.

Vir die besoekers was die senter Marvello Steenkamp en sy agsteman Jeffrey Laka uitstaande. Vir die tuisspan was die skrumskakel Marshall Douman en sy vleuel Jody Halford sy beste spelers.

Helderberg se o.20’s was waarskynlik sy klub se span van die dag met ’n oorwinning van 22-0. Die driedrukkers was die vleuel Barny de Waal (2), slotte Neville Cooper en JT Basson. Die senter Quinn Visser slaag met een doelskop.

Die derde span klop Unie-Milnerton 20-0 aangesien UniMil sonder ’n voorryman die wedstryd afgeskop het.

Hierdie Saterdag reis Berge se eerste, tweede en o.20-span na Belhar om met die gedugte teenstanders kragte te meet.

Die derde span speel op die Craven–velde teen Maties se derde span.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article