’n Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) werk net soos ’n goed geoliede masjien as dit dien as verbintenis tussen die gemeenskap en die polisie.
Die Strand-GPF is tans in ’n plek waar die GPF die gemeenskap help waar hy kan, maar hy vra die polisie om ook hul rol te speel.
Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand-GPF, sê die GPF het tans baie goeie vennootskappe met wetstoepassers, die polisie en die verkeersafdeling. Dit was nie voorheen die geval nie.
“Goeie verhoudings en deursigtigheid is belangrik vir ons as ’n GPF. Ons kan nie net op ons eie funksioneer nie. Die een hand moet die ander hand was,” sê Thysen.
Maar, net soos ’n GPF deursigtig moet wees, moet die polisie ook deursigtig wees.
“Bende-misdaad en geweld gebaseerde misdade kraai tans koning in sektor een, wat insluit Broadlandspark, Sercorpark en Erijaville. Met al die skiet- en messteekvoorvalle moet die polisie ook meer sigbaar wees.”
Dis moeilik om skietvoorvalle aan ’n sekere tyd of datum te koppel, sê hy.
“Die skietvoorvalle gebeur nou elke dag. Dié soort misdaad is tans volop in Broadlandspark (in Tarentaalplaas).”
Thysen sê die gemeenskap in dié gebiede is baie versigtig om daaroor uit te praat.
Hy sê die bendes gebruik tans kinders om hul skietwerk vir hulle te doen.
“Ons het onlangs ’n negejarige seuntjie gesien wat met ’n vuurwapen in Sercor-park geskiet het.”
Hy sê dit is ’n skokwekkende ding om te sien hoe jonk van die bendelede eintlik is.
“Die GPF is elke dag op die grond in die gebied. As iets plaasvind, gaan ek en pastoor Danfred Kleinschmidt uit na die families wat daardeur geraak is.”
Kleinschmidt doen al die pastorale werk met die slagoffers en hul families namens die GPF.
“Die gemeenskap het nou ’n platform en ’n stem na wie hulle kan uitreik. Ek is ’n addisionele lid by die GPF, maar ek help families uit met my pastorale kennis. Op die oomblik reik die Bethesda-kerk ook uit na die gemeenskap en ons help hulle met begrafnisse, soos dié van Shakier Losper, wat verlede Saterdag in ons kerk plaasgevind het. Ons kerk is nie net ’n kerk nie, dis ’n dienssentrum,” voeg Kleinschmidt by.
In ’n onlangse geval is twee vroue met ’n vuurwapen aangehou, maar die saak het doodgeloop. Thysen, ’n oud-polisieman, het die vroue gehelp sodat hul saak weer deur die polisie opgeneem word.
“Die gemeenskap moet vry voel om vorendag te kom met inligting wat ons kan help om misdade op te los. Hulle kan dit anoniem doen, wat beteken hul lewe gaan nie in gevaar gestel word nie,” sê Thysen.
Hy moedig die gemeenskap aan om ook by hul plaaslike buurtwag aan te sluit, want dis hoe misdaad op grondvlak beveg kan word.
Sakeondernemings met toerusting soos veiligheidskameras of enigiets soortgelyk is welkom om by die GPF aan te sluit en kan Thysen by 073 274 1139 bel om aan te sluit.
“Ons doen ook aanbevelings vir die polisie, want soms word iemand wat ’n moord in ’n sekere gebied gepleeg het weer in dieselfde woonbuurt vrygelaat. Ons is daar om toe te sien dat dit nie gebeur nie,” sê Thysen.




