’n Plaaslike raadslid het die metropolisie bedank vir sy lede se vinnige optrede om drie verdagtes in Macassar aan te keer.
Volgens Peter Helfrich, die wyk 109-raadslid, het beamptes van die metropolisie drie verdagtes gejaag en in Japonicastraat in hegtenis geneem.
Die verdagtes was met ’n 9 mm-pistool en ’n kapmes gewapen.
“ ’n Polisiebeampte is ná die voorval in die hospitaal opgeneem nadat vuurwarm kookolie in sy gesig en teen sy agterkop gegooi is,” sê Helfrich.
Hy sê volgens die metropolisie het hulle ’n klagte bygewoon nadat ’n vrou glo deur haar lewensmaat aangerand is.
“Die polisieman is deur ’n inwoner ingeneem, wat na hom omgesien het totdat die ambulans aangekom het. Dankie aan die inwoner.”
Helfrich sê hy is trots op die werk wat die metropolisie se lede in sy wyk verrig.
Hy noem sedert sy verkiesing in November bring hy gereeld baie tyd daar deur om ’n goeie verhouding met die metropolisie op te bou.
“Ek weet nie wat sou alles in my wyk sonder die metropolisie se bystand gebeur nie. Tans is die metropolisie in ons wyk ook baie meer sigbaar as vantevore.”
Helfrich wil graag hê die plaaslike polisie moet ook meer in wyk 109 betrokke raak. “Ek blameer nie ons polisiebeamptes vir die feit dat hulle nie in ons gemeenskappe sigbaar is nie. Ek weet hulle is onderbeman en het nie al die hulpbronne nie.”


