Edna Brand is slaggereed om die SA vlag in Finland te laat wapper. Foto: Jamey Gordon


“Pas jou liggaam op en gebruik jou kop, want the body achieves what the mind believes. En, droom groot!”

Só bemoedig ’n pensioentrekker van Somerset-Wes, wat gekies is om haar land in die Wêreld Meesters-atletiekkampioenskap in Finland te verteenwoordig.

Die ywerige stapper Edna Brand sien daarna uit om teen die wêreld se beste atlete van 87 lande in die atletiekbyeenkoms, wat van Woensdag 29 Junie tot Sondag 10 Julie in Tampere aangebied word, mee te ding.

Dié 70-jarige lid van die Strand-atletiekklub sal in verskeie afstande in die 70-plus ouderdomsgroep op die baan deelneem, insluitend die 5 km-, 10 km- en 20 km-wedloop.

Edna het in die Suid-Afrika Meesters-atletiekkampioenskap, wat van Donderdag 5 tot Saterdag 7 Mei in die Pilditch-stadion in Pretoria gehou is, stof in die oë van haar mededingers geskop en puik prestasies aangeteken. Die voorbeeldige sportvrou het goud verower nadat sy die 5 000 m in ’n ongelooflike tyd van 30:55:03 baasgeraak het en die 10 km-padwed­loop in net meer as ’n uur afgelê het.

Edna het die Westelike Provinsie se rekord in haar ouderdomsgroep in Januarie vanjaar op die Parow-atletiekbaan verbeter, dit twee keer daarna wéér verbeter en is 0,5 sekonde van die SA rekord af vir 5 000 m in haar ouderdomsgroep. “Om my beste te doen, is vir my belangriker as om die beste te wees, en dis my mikpunt,” het ’n beskeie Edna gesê.

Die SA Meesters-atlete het die kwalifiserende geleenthede vir die wêreldkampioenskap kafgedraf en spog met nasionale kleure wat meer as een keer hertoegeken is nadat sy op 45-jarige ouderdom begin stap het, ’n jaar later haar WP-kleure verwerf het en nog ’n jaar later vir die eerste keer haar SA nasionale kleure met haar beste tyd nog vir die 5 000 m – 28:28 – verdien het.

“Ek was altyd baie aktief, maar het nie van draf gehou nie. Die tegniese sy van spoedstap het vir my na ’n lekker uitdaging gelyk, en toe sien ’n Springbok-stapper my raak en nooi my baan toe, en soos hulle sê, the rest is history!”

In ’n terugblik het Edna haar eerste deelname aan die sport op die Parow-atletiekbaan herroep. “Sal ek dit ooit vergeet?” het sy gevra. “[Ek was] ’n regte groentjie! Maar die beamptes en mede-stappers was wonderlik; ek het by hulle leer stap. Hulle voel nou al soos familie.”

Edna, wat deur die loop van haar atletiek nooit die voordeel van ’n afrigter gehad het nie, het meegedeel dat sy aanklank by die sportsoort gevind het as gevolg van die gesonde uitdaging om die tegniese deel onder die knie te kry, daarna die fyner vaardighede te slyp en met spoed te verbeter. “Dit is vir my heerlik om mededingend te wees en soms myself in die rooi te druk; ander tye geniet ek net die kameraderie van oefen saam met die drawwers.”

Dié kranige atleet het drie jaar gelede by die Strand-atletiekklub aangesluit nadat sy van Vredenburg na die Kom verhuis het. “Ek kon nie ’n beter besluit geneem het nie. ’n Omgee-klub by uitstek, en hulle het ook ’n finansiële bydrae gelewer om my Finland-droom te bewaarheid,” het sy met dankbaarheid gesê.

Op ’n vraag watter voordeel sy uit atletiek op so ’n goue ouderdom put, het Edna geantwoord: “Dieselfde vir enige ouderdom – jy bly fisiek en geestelik fiks. Weliswaar is ’n mens seker op my ouderdom net nog meer dankbaar vir ’n gesonde liggaam.”

Edna samel geld in vir die Finland-droom en sal enige bydrae waardeer. Sy kan by 082 890 2024 bereik word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article