’n Gefrustreerde Macassar-inwoner het haar vandeesweek tot die koerant gewend en haar misnoeë uitgespreek oor haar huishouding wat weke aaneen sonder krag gelaat is.
Samantha Arendse van Chris Hani-park vertel dat hulle byna vier weke sonder krag gesukkel het – dít nadat Eskom-beamptes hul kragmeter by hul woning in Peter Jacobsstraat “vervang” en hulle letterlik in die donker gelaat het.
“Die situasie is ondraaglik. Benewens die ongerief om sonder krag deur die lewe te moet gaan, het ons ’n twee weke oue baba, wat die omstandighede bemoeilik. Ons is genoodsaak om ons bure in die oë te kyk en vir bietjie kookwater te vra waarmee ons wondere moet verrig.
“Ons moet in die koue, nat weer kos buite op ’n oop vuur maak en onsself aan die elemente blootstel,” het Arendse met duidelike ontevredenheid in haar stem gesê.
Volgens haar het verskeie pogings om beamptes telefonies te bereik om ’n klagte in te dien, misluk.
Selfs ’n beweerde besoek aan die kragreus se Bellville-kantore was onsuksesvol.
Die plaaslike raadslid Peter Helfrich het, nadat hy uitgevind het van die huisgesin se haglike omstandighede, by hul tuiste besoek afgelê. In ’n persverklaring wat by navraag aan die koerant uitgereik is, het Helfrich gesê: “Dit het my hart gebreek om te sien hoe hulle sonder elektrisiteit moet sukkel.”
Helfrich het voorts verklap dat hy daagliks oorval word met klagtes van inwoners oor die swak diens wat hulle van Eskom ontvang en verduur. “Inwoners kla gereeld dat dit byna onmoontlik is om Eskom in die hande te kry wanneer hulle ’n probleem ervaar. Voordat Eskom hul oproep beantwoord, is óf inwoners se lugtyd óf hul geduld al op. Boonop is baie van die inwoners wat hierdie soort diens ontvang, bejaard en kwesbaar,” het Helfrich gesê.
“Inwoners is keelvol vir die dienste wat hulle van Eskom ontvang. Dit is moontlik om beter diens te lewer. Inwoners wat deur die Stad Kaapstad van elektrisiteit voorsien word, ontvang baie beter diens.”
Volgens ’n persverklaring uitgereik deur Eskom is die kragmeter Saterdag 30 April by Arendse se woning vervang en dit lyk asof die inwoners blykbaar versuim het om die nuwe kragmeter te registreer.
“Eskom het ’n paar krageenhede op die meter gelos om te verseker dat die meter optimaal gewerk, wat wel die geval was. Die kragverskaffer het intussen die kliënt gekontak om te help met die registrasie van die meter, wat die kliënt in staat sou stel om verder eenhede te koop,” het die persverklaring gelui.
Eskom het verduidelik dat inwoners wat ’n voorafbetaal-meter wil registreer, 08600 37566 moet skakel en die ID-nommer van die persoon in wie se naam die meter geregistreer moet word, die erfnommer van die huis of die meternommer van ’n onmiddellike buurman wie se meter op die stelsel geregistreer is, byderhand hou.
Kliënte kan die MyEskom Customer App aflaai, wat beskikbaar is by iStore en Google Play Store, of die Alfred Chatbot op die Eskom-webtuiste gebruik om foute aan te meld.
Die MyEskom Customer App en die Alfred Chatbot laat gebruikers toe om ’n fout onmiddellik aan te meld en verskaf onmiddellik ’n verwysingsnommer wat nodig is om vordering met die fout op te spoor. Alternatiewelik kan inwoners die Share Call-nommer (08600 37566) skakel of e-pos stuur na customerservices @eskom.co.za.
“Eskom vra om verskoning vir enige ongerief wat vir klante veroorsaak is.”
Arendse het bevestig dat hul kragtoevoer verlede Vrydag (13 Mei) herstel is.



