Kyle Snyers, MJ Terblanche, Joshua Human en Aldo Erasmus.Foto: Jamey Gordon


Een van vier plaaslike laerskoolrugby-uitblinkers, wat met puik deelname in die jaarlikse Marlow-Sanlam- o.13-rugbyfees gekies is vir die uitnodigingsrugbyspan om later vanjaar na Italië te toer, benodig die gemeenskap se ondersteuning om die geleentheid te verwesenlik.

Uit 32 skole se o.13-rugbyspanne (480 rugbyspelers) wat van Vrydag 25 tot Maandag 28 Maart in die rugbyfees in Cradock meegeding het, is Maurice-James “MJ” Terblanche en drie ander Laerskool Lochnerhof-rugbyspanmaats, Kyle Snyers, Joshua Human en Aldo Erasmus, onder slegs 23 seuns wat ná afloop van die geleentheid vir die uitnodigingspan gekies is. Die span sal einde September vanjaar besoek aflê aan dié Europese land met ’n lang Mediterreense kuslyn, waar hulle hul rugbyvaardighede verder sal slyp.

Die gr.7-leerders deel elkeen ’n passie vir die kontaksport, en die geleentheid wat deur Travel and Sport aangebied word, sal hul sportloopbaan tot nuwe hoogtes laat skiet. Maar, die trapklip sal hul ouers byna R44 000 uit die sak jaag.

“Ek is baie opgewonde en beskou dit as ’n groot eer om op 13-jarige ouderdom al oorsee te kan gaan rugby speel. Weens die afgelope twee jaar van Covid-19 en inperkings het ons reeds baie gemis. Dit is gewis nie ’n geleentheid wat ons wil misloop nie,” het MJ gemotiveer.

Dié kranige rugbyspeler het sy passie vir die sport – wat hy met sy pa, Arnie, en albei sy oupas deel – as vierjarige kleuter aan Speelkasteel-speelskooltjie ontdek. Hy het deelgeneem aan die Ruggakids-program, wat rugby as ’n buitemuurse aktiwiteit vir kinders bied. Sy eerste wedstryd was as vyfjarige in ’n Ruggakids-toernooi by Laerskool Hendrik Louw. Hoewel hy nie die telling kan onthou nie, was dit die eerste drieë van sy loopbaan wat sy liefde vir die sport laat vlamvat het. Sedert 2016 speel MJ nog elke jaar vir sy skool se A-rugbyspan. Hy speel tans ook paaltjiewagter vir die o.13A-krieketspan, en ook hokkie, en is ’n ywerige spiesgooier wat tot die derde ronde van die o.13-uitdunne deurgedring het. “My pa inspireer my nog altyd; om altyd my beste te gee en nooit my drome te laat vaar nie,” het MJ, wat daarna streef om eendag sy land in die groen- en-goud te verteenwoordig en as die Bokke se nommer 8 op die veld uit te draf, vertel.

Vir MJ en sy ouers sal dit “baie beteken” as die gemeenskap kan help om die toer ’n werklikheid te maak en dié rugbyspeler ’n stappie nader aan sy rugbydroom te bring.

Die rugbytoer sal MJ se eerste oorsese besoek wees, en wat dit nog meer besonders maak, is dat hy sy gunstelingsport daar sal kan gaan speel. Verder hoop hy om elke oomblik van die geleentheid te geniet. Die toer duur 10 dae met sewe nagte in Italië. Die span sal Dinsdag 27 September van Johannesburg na Lignano Sabbiadoro vertrek. Hulle sal ook stede soos Venisië en Negrar besoek, en aan drie wedstryde deelneem voordat hulle Donderdag 6 Oktober terugkeer.

Sy boodskap aan ander kranige rugbyspelers: “Leef jou drome, wees altyd jouself en moenie dat iets jou keer om jou doelwitte te bereik nie. Maar, heel belangrikste, wees altyd dankbaar vir jou gawes en bly nederig.”

Indien enigiemand ’n bydrae wil maak om MJ of sy span­maats se rugbytoer te verwe­-senlik, bel sy ma Tiliza by 082 326 2949 of skakel Laerskool Lochnerhof by 021 854 7316.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article