Ná ’n uiters versigtige begin en drie eerstehelftedrieë, het Helderberg-rugbyklub momentum opgebou en nog sewe drieë het in die tweede helfte gevolg om sy wedstryd teen Primrose-rugbyklub sy mees oortuigende wedstryd van die seisoen te maak.

Die reusagtige eindtelling van 64-3 in die Charles Morkel-stadion onderstreep Berge se oorheersing oor die besoekers. Ná sowat 20 minute het die binnesenter, Lyn-Jay Hendricks, die doellyn vir Berge se openingsdrie oorgesteek. Die skrumskakel, Michael Visser, het verdoel (7-0).

Vyf minute later het die buitesenter, Quiwen Bauman, ook so gemaak, maar die doelskop was wyd (12-0).

Primrose het met ’n strafdoel geantwoord (12-3).

Net voor die rustydfluitjie het die flank Estehan Visagie die bal sterk gedra en sy slot Shane Kennedy in besit gestel, wat sy pad doellyn toe oopgenael het. Visser se doelskop het die rustydtelling 19-3 gemaak.

Die linkervleuel, Luke Hertz, het die bal in die 45ste minuut gedra en die regtervleuel Jody Koul het by hom aangesluit. Koul het 35 m vir sy drie agter die pale genael en Visser het verdoel (26-3).

Slegs drie minute later het Koul weer gedruk nadat hy die bal met sy voet beheer en in die Castle-hoek toegeval het. Die doelskop was egter mis (31-3).

In die 60ste minuut breek Visser skerp voordat hy sy flank Schalk Burger in besit stel vir ’n lang lopie doellyn toe. Visser se doelskop het die telling 38-3 gemaak.

Ses minute later het die loskopstut, Martin Oosthuizen, vir sy drie deurgebars. Visser het met die doelskop geslaag (45-3). In die 71ste minuut het die heelagter Donvino Swartland op Primrose se 22 m-lyn besit gekry en agter die doellyn afgerond. Die plaasvervanger-skrumskakel Marshall Douman het verdoel (52-3).

Hertz het reg van die inskop af besit beheer in die hoekie gaan druk (57-3). In die laaste beweging van die wedstryd het die plaasvervanger-losskakel JJ Stover lyn gesny met Burger byderhand om af te rond. Douman se doelskop naak die eindtelling 64-3.

Die skakelpaar Errol Jaggers en Visser was uitstaande en die hardewerkende lostrio – die kaptein en agtsteman Conway Pretorius en die flanke Burger en Visagie tesame met die vlugvoetige regtervleuel, Koul, was ook puik.



V


Ander tellings:

Helderberg II 46-7 Primrose II; Helderberg o.20A 109-0 Primrose o.20A; Helderberg III 0-17 Durbell.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article