’n Span speurders van Lwandle is vir hul uitstekende ondersoekwerk, wat ’n misdadiger aan die pen laat ry het, vereer.
Sersante Wynand Carelse en Marius Erasmus, wat sowat vyf jaar saam as toegewyde lede van die plaaslike polisiekantoor werk om misdaad te bestry, is vir hul aandeel in die gewigtige vonnisoplegging van ’n “gewoontemisdadiger” geprys.
Phumlani Gwanyana (30), wat byna twee jaar gelede op aanklagte van moord, gewapende roof en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem is, is verlede maand in die Strand-streekhof gevonnis. Gwanyana het Vrydag 20 Mei skuld beken en is dieselfde dag altesaam 26 jaar direkte gevangenisstraf opgelê.
Die vonnisoplegging volg nadat Gwanyana met ’n vuurwapen, wat in ’n huisrooftog op 24 Augustus 2020 gebruik is, in sy besit aangekeer is. Dié voorval het om 18:50 dié aand in Theo Silwanyana-straat van die Zola informele nedersetting plaasgevind terwyl die huisgesin – die destydse 45-jarige klaer, sy vrou en hul twee seuns, wat albei verstandelik gestremd is – tuis was. Die hoof van die huis het in sy verklaring vertel hulle het saam gesit en televisie kyk toe iemand aan die voordeur klop. Toe een van die seuns die deur wou oopmaak, het twee verdagtes die deur oopgedwing, vuurwapens uitgepluk en die gesin aangehou. “Een van die verdagtes, wat later as Gwanyana uitgeken is, het die vrou na die hoofslaapkamer geneem waar hy die klaer se gelisensieerde vuurwapen, wat in ’n kluis gebêre was, geëis het. Die mans het toe met die vuurwapen asook selfone gevlug,” het Carelse gesê.
Gwanyana is byna ’n uur later met die vuurwapen waarmee die rooftog uitgevoer is, betrap.
Volgens Carelse is ’n saak van gewapende roof geopen. By nadere ondersoek is die vuurwapen positief aan die voorval verbind en Gwanyana is op ’n foto-parade as ’n verdagte uitgeken.
’n Dag ná die huisroof is die speurspan deur ’n informant genader wat Gwanyana geïdentifiseer het as een van twee verdagtes in ’n moord, wat die Vrydag (21 Augustus 2020) plaasgevind het. Die informant het beweer Gwanyana was die een wat die 35-jarige Abongile Deppa vermoor het. Die voorval het om 15:45 by ’n informele struktuur in die Wag ’n Bietjie- informele nedersetting in Nomzamo afgespeel.
’n Gestryery het glo tussen die verdagtes en Deppa onstaan. Gwanyana het in die proses op Deppa losgebrand en hy het menige skietwonde opgedoen. Carelse en Erasmus het in hul ondersoek getuies opgespoor wat alles gestaaf het.
Danksy dié twee ondersoekbeamptes se vinnige, puik speurwerk, het Gwanyana met sy eerste hofverskyning Woensdag 26 Augustus 2020 op al vier aanklagte – moord, gewapende roof en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie – in die Strand-landdroshof verskyn.
Gwanyana het Vrydag 4 September 2020 vir ’n formele borgtogaansoek voorgekom, maar is borg geweier. Hy is vir ongeveer twee jaar aangehou totdat hy skuldig gepleit het en gevonnis is.
Gwanyana is Vrydag 20 Mei skuldig bevind en die volgende vonnis opgelê: . Moord (klagte 1) – 15 jaar direkte tronkstraf en onbevoegd verklaar om ’n vuurwapen te besit; . Gewapende roof (klagte 2) – 15 jaar gevangenisstraf, waarvan vyf jaar vir vyf jaar opgeskort is;. Besit van ’n onwettige vuurwapen (klagte 3) – vyf jaar tronkstraf; . Besit van onwettige ammunisie (klagte 4) – 12 maande gevangenisstraf.
Carelse het hul sukses toegeskryf aan harde werk, wat baie laat aande en baie rondhardloop ingesluit het.
“Ons voel goed oor die vonnisoplegging en trots op die werk wat ons ingesit het. Die vonnisoplegging dien nie net as boodskap aan misdadigers om in hul pasoppens te wees nie, maar wys ook die gemeenskap dat die polisie steeds die ekstra myl stap om veiligheid te bevorder,” het hy bygevoeg.



