Bekommerde inwoners van Strand het voor die afgebrande Suiderstrand-biblioteek vergader om hul misnoeë oor die biblioteek uit te spreek. Agter (van links) is Waleedt Jenner, Cheslyn Benn, Cathy Hendricks, Brent Louis, Zaida Chotia, Rashied Railoun, Janap van Niekerk en Cynthia October. Voor staan Amiena Damon, Fayrouz Nefdt, Faotimah Nefdt, Rolda Collins, Gasant Bazier, Audi Matthys, Selma Julius en Monecia van Boom. Foto: Rick Marais


Gemeenskapslede van Strand het Sondag (12 Junie) voor die Suiderstrand-biblioteek bymekaargekom weens hul misnoeë oor die gemeenskapsbaken, wat weens ’n verwoestende brand tot niet gegaan het.

Die samekoms is deur die gemeenskapsaktivis Cheslyn Benn gereël sodat gemeenskapslede wat die verlies van die vier dekade oue baken ly, byeen kon kom vir ’n bespreking oor wat die toekoms inhou en wat van die raad verwag word om die biblioteek tot sy eertydse glorie te herbou.

Die 42-jarige biblioteek in Laer Gordonsbaaiweg is op Saterdag 27 Februarie verlede jaar vermoedelik weens brandstigting deur vlamme verswelg (“Geskiedenis, nie net boeke, vernietig,” DistriksPos, 4 Maart 2021). Die voorval het in die vroeë oggendure plaasgevind en brandweerdienste is ná ’n noodoproep om 05:37 ontplooi. Die verwoestende brand is die eerste voorval in onlangse jare waarin ’n stadsbiblioteek heeltemal vernietig is. Strukturele deskundiges het die Stad Kaapstad aanbeveel om die verkoolde oorblyfsels van die gebou, wat eens die Suiderstrand-biblioteek gehuisves het, te sloop (“Slopingsvoorstel vir biblioteek,” 7 Oktober 2021).

Die gemeenskap ly steeds ’n jaar later onder die verlies van die biblioteek waarheen talle jeugdiges oor die jare hul toevlug geneem het en wat selfs as naskoolsentrum gedien het.

Volgens Benn het inwoners nie altyd geld om ’n taxi te haal of die tyd om saam met hul kinders na die naaste biblioteek in Piet Retiefstraat te stap of die een in Gordonsbaai te besoek nie. “Ons kinders is besig om agter te raak. Hier is nie ’n plek waar kinders take op rekenaars kan kom doen nie. Hier is nie ’n biblioteek waar ons kinders kan kom leer en lees nie. Ons kinders het al die afgelope twee jaar ’n agterstand sedert die biblioteek afgebrand het,” kla Benn.

“Ons as gemeenskap moet nou besluit wat ons volgende gaan doen. Die biblioteek in Lwandle gaan opgeknap word. Ek dink daardie geld moet eerder gebruik word om ons biblioteek weer op te bou.”

Monecia van Boom, wat self ’n ma is en met dié probleem sit, sê sy kan nie met haar kind al die pad na Strand of Gordonsbaai se biblioteke reis nie. “Ons kort ’n biblioteek vir ons kinders in die gemeenskap. Die nood is baie groot. Ek kan self nie altyd ’n taxi bekostig nie, en om so ver met my kind saam met my na ander biblioteke te loop, gaan ook nie werk nie.”

Volgens Audi Matthys het die raad nooit enige vergaderings met die inwoners oor die herbouing van die biblioteek gehou nie.

“Ons het absoluut geen terugvoering van die munisipaliteit af oor die biblioteek gekry nie. Ons weet nie waarheen is die versekeringsgeld vir die afgebrande biblioteek nie,” sê Matthys.

Patricia van der Ross, ’n raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die Stad Kaapstad se biblioteek- en gemeenskapsdienste werk nog aan ’n koste-analise vir die rehabilitasie van die Suiderstrand-biblioteek. “Die analise vind tans plaas weens ’n versekeringsverwante ondersoek,” sê Van der Ross.

Benn, wat almal bedank het vir hul opkoms, het die punt gelug dat die samekoms vreedsaam was. “Ons sal weer bymekaarkom, en dan sal ons rolspelers uit die gemeenskap – insluitend die plaaslike raadslid – nooi om die vergadering by te woon. Ons wil nou antwoorde oor die biblioteek hê. Iets moet gebeur, want ons gemeenskap benodig weer ’n biblioteek,” meen Benn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article