’n Plaaslike brandweerman se suster en haar twee seuns is verlede week hul tuiste kwyt toe hul wendyhuis in een van twee afsonderlike brande in puin gelê is.
Albei voorvalle het verlede Donderdag (16 Junie) plaasgevind en twee informele strukture is in die brande geëis.
Die eerste het in die vroeë oggendure in Macassar tot die grond afgebrand. Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweerdienste, is hulle om 04:23 in kennis gestel van ’n informele struktuur wat in Nagtegaallaan brand. Hy het gesê brandweerspanne van Macassar en Somerset-Wes het op die voorval gereageer. “Die brand is net ná 05:00 geblus en ’n enkele struktuur is heeltemal vernietig,” het Carelse gesê.
DistriksPos & Helderberg Gazette het deur die Wyk 100-raadslid Peter Helfrich na die slagoffers uitgereik, maar hulle het verkies om nie nou al oor die voorval te praat nie.
Brandbestryders is Donderdag om 19:03 weer ontbied toe ’n struktuur in Strand vlamgevat het. Carelse het bevestig brandweerspanne van Somerset-Wes en Strand het op die voorval gereageer en met hul aankoms die brandende struktuur aan die agterkant van ’n huis aangetref.
Gershwin Cloete, wat al langer as 18 jaar aan die Stad se brandweerdienste toegewy is, 14 jaar by Strand gedien het en die afgelope vier jaar by die Macassar-brandweerstasie gestasioneer is, vertel ’n familielid het hom met die nuus gebel nadat hy pas besoek afgelê het by sy bejaarde ouers en onderweg was om sy vrou op te laai. Volgens Cloete het sy 46-jarige suster saam met haar seuns, wat albei iets in die 20 is, in die wendyhuis agter hul ouerhuis gewoon. “Ek weet nie presies wat gebeur het nie, maar is meegedeel dat ’n verwarmer glo aan gelos was terwyl een van die seuns, wat tuis was, in die hoofhuis iets gaan kry het om te eet. Hy het op ’n tydstip by die deur uitgeloer en gesien hul plek is aan die brand. Toe hy die deur oopmaak, was die vlamme reeds hoog. Hy het om hulp geroep en my ander suster, wat tuis was, het my ouers na veiligheid gehelp,” het Cloete, wat die nooddienste ontbied het, gesê.
Carelse het bevestig die brand is om 20:10 geblus en een slagoffer is vir rookinaseming behandel en in die sorg van familielede gelaat.
Hoewel brandbestryders vinnig genoeg gereageer het, is die wendyhuis deur die vlamme verswelg en die werklikheid wat soveel ander in die gesig staar, was hierdie keer Cloete se eie familie se nagmerrie. “Ek kom daagliks met mense in aanraking wat hul besittings in ’n brand verloor, en om die smart en hartseer op hul gesigte te ervaar, is nooit lekker nie. Dit was moeilik om my pa so te sien,” het Cloete gesê.
Hy het verder gedeel dat sy pa destyds as verwer gewerk en swaarverdiende geldjies afgeknyp het om die wendyhuis op te rig met sy huisgesin se nederige begin. Later het hulle by die hoofhuis ingetrek en sy bejaarde ouma wat al oorlede is, het in die wendyhuis gewoon voordat sy suster dit in haar drie-vertrek-tuiste omskep het.
“Hulle het wel alles verloor, maar almal is ongedeerd en hiervoor is ons bly,” het Cloete aangevoer.


