God se genade.
Hiervoor is ’n plaaslike ma opnuut dankbaar nadat haar tienerdogter ’n ongeluk op die N2-snelweg met slegs geringe beserings, skraapwonde en kneusplekke oorleef het.
Die voorval het voorverlede Woensdagoggend (8 Junie) in spitsverkeer tussen die Shell-vulstasie en die plaaslike primaatsentrum plaasgevind toe die 16-jarige op pad skool toe van haar bromponie afgegooi is en tussen voertuie beland het.
“Ek het so ’n koue gevoel gekry toe die foon lui, want sy bel nooit op pad skool toe nie. Ek het letterlik my sleutels gegryp, met my man agter die stuur in die motor gespring en met die gevaarligte aan na haar gejaag,” het die ouer, Lana Gloy, herroep.
“Ek het Jodi-Leigh onmiddellik in my arms gehad. Sy was erg geskok en ons al twee het gehuil.”
Jodi-Leigh het vertel dat sy omstreeks 07:15 die snelweg op pad skool toe aangedurf het. Terwyl sy in die rigting van Somerset-Wes op ’n ongeteerde gedeelte van die regterbaan beweeg het, het sy weens die ongelyke oppervlakte wat op haar bromponie ingewerk het, besluit om van baan te verwissel. Net toe sy oorbeweeg, het sy die groot hoogteverskil tussen die twee bane gesien. Dit het die voorwiel onder haar laat uitgly en sy het haar balans verloor en is afgeslinger. “Ek’t so drie tot vyf meter ver gegly voordat my poegie gerol het. Die sitplek het oopgeskiet en al my goed het in die pad gestrooi gelê. Die poegie het op my regterbeen beland. Ek het my wind-uit geval, en terwyl ek daar gelê het om my asem terug te kry, het die motors net om my gery. Ek het alles daar gelos en myself uit die pad gekry,” het sy vertel.
Jodi-Leigh het voorts vertel drie voertuie het later op die toneel gestop – ’n manlike motoris wat haar gehelp het om alles uit die pad te kry, ’n bakkiebestuurder wat haar bromponie in sy voertuig gelaai en na haar huis geneem het, en ’n vrou, Magdalene Cloete, wat haar op die toneel gekalmeer en getroos en selfs later weer kontak gemaak het om te hoor of sy oukei is. “Ek wil net dankie sê aan almal wat gehelp het; jul hulp en omgee beteken so baie,” het Jodi-Leigh gesê.
Volgens Lana is haar dogter se klere geskeur en haar handskoene deurgeskaaf, maar was dit nie daarvoor nie, sou sy waarskynlik meer ernstige beserings opgedoen het. “Haar gewrig en haar been het gebloei. Dis net deur die genade van God dat sy oukei is.”
Jodi-Leigh het ’n beroep op owerhede gedoen om motoriste se veiligheid te prioritiseer en ten minstens oplettende tekens of bordjies aan te bring op openbare paaie waaraan gewerk word om mense bewus te maak van moontlike gevare waarvoor hulle op die uitkyk moet wees.
Jandré Bakker het by navraag gesê verskeie tekens is opgerig en was met die voorval reeds daar om aan te dui dat die periodieke herstelprojek – wat ’n nuwe asfaltlaag (teer) insluit, maar ook ander werke soos herstelwerk aan krake, instandhoudingswerk aan randstene, omheining sowel as vangreëlings – plaasvind. Hy het verduidelik dat twee soorte padtekens of kennisgewings aangebring is: “Vir die volle duur van die projek is kontrak-kennisgewingsborde selfs voordat werk begin het, aan beide kante van die projek aangebring. By die betrokke projek is dit by die De Beers-voetgangersbrug en ook by die kruising by Sir Louwry’s Pass-weg.
“Verder is verskeie konstruksietekens op sekere tye en plekke binne die werkgebied en dele wat van tyd tot tyd bepaal word deur die fase waarin die projek is. Dit sal tipies padtekens wees wat aandui dat ’n baanvernouing voorkom, ’n verandering in rigting en gewone verkeersvloei ensovoorts.
“By die betrokke projek was daar padtekens ten tyde van die voorval wat aandui dat daar ’n hoogteverskil of ‘trap’ (sogenaamde step in the road) is sowel as tekens wat aandui dat padmerke nog nie aangebring is nie (no line painting). Na afloop van die baie reën, het baie water teen die laspunt afgeloop, wat moontlik plasse kon veroorsaak het, en ons het aanvullende bakens (deliniators) op die laspunt (die hoogteverskil/trap) gepak.”
Bakker het bygevoeg diefstal van padtekens kom soms voor, en om die probleem hok te slaan, is van die tekens aan straatligpale aangebring.
Volgens Bakker is die inwaartse ryvlakke reeds voltooi en is die departement tans besig op die uitwaartse ryvlak, spesifiek met die vinnige baan naby Onverwacht-weg. Voorlopige beplanning dui daarop dat die werk eers vroeg in Julie voltooi sal wees.
“Die afgelope reën en koue weer belemmer tans ons vordering, dus sal die einddatum aan weerstoestande onderworpe wees,” het hy gesê.
Bakker het verder gevra net soos padgebruikers hul rystyl of padgedrag by weersomstandighede moet aanpas (soos om in reënweer stadiger te ry en volgafstande verder te vergroot), so moet padgebruikers ook hul rystyl of padgedrag aanpas waar padwerk gedoen word.
Waarskuwingstekens word aangebring en padgebruikers moet bedag wees op alle tekens.



