Ná baie drama agter die skerms – of die wedstryd teen die Vineyards-rugbyklub gespeel, uitgestel of prysgegee moet word – het dit uiteindelik tot ’n hoofsaaklik ongelyke stryd gelei waarin die eerste span van Helderberg-rugbyklub 13 drieë ingeryg het.

Vineyards se oomblikke het vier drieë opgelewer met die rustydtelling 40-12 en eindtelling 84-24 in die Superliga-B-kragmeting in die Charles Morkel-stadion.

Berge se agterlyn was skitterend op stryk en niemand meer so as sy linkervleuel, Nigel Patrick, nie.

Patrick het slegs 40 sekondes ná die afskop die eerste van sy vier drieë gaan druk. Die res van die driedrukkers het soortgelyk baljaar en die spel geheel en al oorheers.

Die regtervleuel, Jody Koul – tot nou die klub se voorste drieëvraat – het twee keer agter die doellyn gaan kuier.

Die buitesenter, Quiwen Bauman, het drie keer gaan druk en sy binnesenter-spanmaat, Lyn-Jay Hendricks, was twee keer agter die doellyn.

Berge se skrumskakel, Michael Visser, het agt drieë verdoel en sy plaasvervanger Marshall Douman twee.

Ander driedrukkers laat in die wedstryd was die flank Estehan Visagie en die plaasvervanger-heelagter Errol Jaggers.

Die mees uitstaande voorspeler was juis Visagie, met die beste agterspelers Visser, Patrick en Bauman.

Die tweedespanwedstryd is uitgestel om op ’n weeksdag gespeel te word.

Die o.20-wedstryd is deur Vineyards prysgegee nadat bevind is hulle het slegs sewe o.20-spelers vir die stryd gehad het. Die res van die span was skoolkinders en sou nie die wedstryd met veiligheid kon aandurf nie.

Hierdie Saterdag (25 Junie) reis Helderberg na Goodwood om met die tuisklub kragte te meet.. Ander uitslag: Helderberg III 31-10 Kuilsrivier III

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article