Die toneel verlede week Donderdagmiddag (21 Julie) in Kusweg het heelwat kommentaar op sosiale media ontlok. Gordon’s Bay Security in samewerking met Strand-buurtwag en wetstoepassingsbeamptes het ’n voertuig met drie vermeende rowers vasgetrek.

Credit: SYSTEM

Verskeie owerhede insluitend die polisie, wetstoepassers, gewapende reaksiebeamptes en buurtwagte het die afgelope paar dae hul hande vol gehad weens misdaad in en om Strand.

Misdaadbestryders is tot aksie geroep ná verskeie voorvalle onder meer vermeende rowers en perlemoenstropers wie se rieme in die Helderberg styfgeloop het, asook ’n uitgebreide soektog na ’n verdagte.

Donderdagmiddag (21 Julie) omstreeks 15:00 het Gordonsbaai-sekuriteit in samewerking met Strand-buurtwag en wetstoepassingsbeamptes ’n voertuig met drie vermeende rowers in Kusweg vasgetrek. Sosiale media het gegons met bewerings dat dit ’n bankroof was omdat die voertuig voor Absa-bank aangekeer is.

Heyns de Waal, bedryfshoof van Gordonsbaai-sekuriteit, sê dit geensins ’n bankroof nie. Hy het genoem die drie verdagtes was wel voorheen by ’n besigheidsroof in Rondebosch betrokke.

’n Apparaat wat gebruik word om motors se afstandbeheerders te blokkeer asook ’n replika-vuurwapen is in die motor gevind.

Adjudant-offisier Nico Beukes, woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig dat die drie verdagtes van onderskeidelik 37, 39 en 46 jaar oud Maandag in die Strand-landdroshof verskyn het. “Die saak sou dan na Rondebosch oorgeplaas word. Die drie klagte teen die verdagtes is dat hulle in die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig was, in besit van ’n replika- vuurwapen was en in besit was van ’n apparaat wat gebruik word om motors se afstandbeheerders te blokkeer,” het Beukes gesê.

Twee dae later, omstreeks 11:00 Saterdag (23 Julie), het Gordonsbaai Sekuriteit en wetstoepassingsbeamptes ’n voertuig wat vermoedelik perlemoen vervoer het al die pad van Sir Lowry’s Pass af gevolg.

Wayne Dyason, woordvoerder van Kaapstad se wetstoepassingseenheid, bevestig dat GB-sekuriteit en die wetstoepassers eers die voertuig probeer aftrek het maar toe besluit die bestuurder om weg te jaag. ’n Hoëspoed-jaagtog het toe kort hierna ontstaan. Altesaam 1 190 perlemoene is gevind nadat die voertuig met twee verdagtes naby die Toyota-handelaar op die N2 in Somerset-Wes afgetrek is. “Die voertuig wat die twee verdagtes gebruik het, is deur die wetstoepassers geskut en die ontskulpte perlemoen is in die voertuig ontdek,” sê Dyason.

Volgens Beukes is die twee verdagtes van 28 en 39 jaar deur die polisie in hegtenis geneem. Albei het reeds in die hof verskyn.

Op Sondag (24 Julie) is ’n voertuig wat ’n paar dae vantevore in ’n besigheidsroof in Pinelands gebruik is, in Sercor-rylaan deur Gordonsbaai-sekuriteit en Strand-buurtwag vasgekeer. Die Strand-polisie het bevestig dat twee mans van onderskeidelik 22 en 25 jaar oud in verband met ’n saak van gewapende roof in Pinelands aangekeer is. “Die twee verdagtes is Sondag deur ’n speurder van Pinelands kom haal. ’n Saak van gesteelde eiendom is geopen,” het Beukes bygevoeg.

Sondagmiddag was die sosiale media weer aan die gons oor ’n helikopter wat so heen en weer oor die Strand vlieg. Dit het aan die lig gekom dat die misdaadvoorkomingseenheid na ’n verdagte op soek was. “’n Helikopter is ingespan nadat die area afgesper is,” sluit Beukes af. Die Strand- polisie kon nie verder oor die soektog uitbrei nie.

’n Voertuig wat ’n paar dae vantevore in ’n besigheidsroof in Pinelands gebruik is, is op Sondag (24 Julie) in Sercor-rylaan deur Gordonsbaai-sekuriteit en Strand-buurtwag vasgekeer.

Saterdag (23 Julie) is ’n voertuig op die N2 in Somerset-Wes afgetrek. Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat 1 190 ontskulpte perlemoen in die voertuig ontdek is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article