Die Strand-gemeenskapspoli­siëringsforum (GPF) het verlede Woensdag (27 Julie) ’n Mandela-dag-saamtrek by Strand Sekondêre Skool gehou.

Die tema vir die dag was ’n fokus op misdaadbewusmaking in die skool.

Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, het gesê die dag is in samewerking met Korrektiewe Dienste, wetstoepassers, die verkeersafdeling sowel as verskeie veiligheidsmaatskappye aangebied.

“Ons program se hooffokus was om dwelmmisbruik die hoof te bied, wat dan op sy beurt moontlike bendeverwante voorvalle en aanrandings by Strand Sekondêr sal voorkom.”

Volgens Thysen het elkeen van die rolspelers wat betrokke was, ingestem om die skool ’n veiliger plek te maak.

Apostel Manfred Jumat, ’n gemeenskapsleier en voorsitter van die Broadlandspark-buurtwag, het gesê dit was opvallend dat almal besef het die noodsaaklikheid om in tyd, energie en ander beskikbare middele in toekomstige leiers te belê, behoort groter prioriteit te geniet.

“Daar is soveel potensiaal van ons leerders wat steeds nog dormant lê en nog nie ontgin is nie. Dis juis hier waar hul motivering lê, wat kan lei tot die vervulling van hul drome en om hulle gefokus te hou op die dinge wat werklik saak maak en geleenthede skep.”

Hy het gesê die span se fokus op die dag was op die graad 8- en graad 9-leerders.

“Die dag het vir ons die perfekte geleentheid geskep om ons kennis en ervaring te deel en ons stories te vertel van uitdagings en oorwinnings in ons eie lewe. Die stories het as motivering en inspirasie vir die leerders gedien en is goed ontvang,” het Jumat gesê.

Thysen het ook beklemtoon dat die rolspelers almal van tyd tot tyd interaksies en opvoedkundige sessies met die leerders gaan deel om sodoende dissipline by die skool te probeer verbeter. “Ons as die GPF is verheug oor die positiewe bydrae en samewerkingsooreenkoms wat gesluit is om skoolverwante voorvalle die hoof te bied,” het Thysen afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article