Bewerings het in Maart die ronde begin doen dat van die babas en peuters by die dagsorg slagoffers was van seksuele mishandeling (“Geen ‘lyfies’ meer by Liefielyfie,” DistriksPos, Donderdag 14 April).


AfriForum het onlangs aangekondig hy gaan betrokke raak by die saak ná klagtes wat vroeër vanjaar teen Liefielyfie-babasorg aangemeld is.

Bewerings het in Maart die ronde begin doen dat van die babas en peuters by die dagsorg slagoffers was van seksuele mishandeling (“Geen ‘lyfies’ meer by Liefielyfie,” DistriksPos, Donderdag 14 April).

Ouers van kleingoed wat aan Liefielyfie-babasorg toevertrou is, is Vrydag 25 Maart deur die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsontwikkeling versoek om hul kinders uit die sorg van die sentrum te verwyder.

’n Mamma wie se dogtertjie vermoedelik by die babasorg seksueel mishandel is, is geskok nadat sy ingelig is die saak teen Liefielyfie-babasorg is van die hand gewys omdat haar dogter te jonk is om in die hof te getuig.

Die ma, wie se identiteit geheim gehou moet word om haar kind se identiteit te beskerm, vertel haar driejarige dogtertjie het ná ’n balletoefening aan hulle vertel sy is deur iemand by die babasorg “seergemaak”.

“Ons het haar dadelik dokter toe geneem en ons is toe na die Patch Helderberg-kindermishandelingsentrum verwys. ’n Spesialis in seksuele molestering het toe die amptelike diagnose as kroniese anale penetrasie met ’n stomp voorwerp beskryf,” sê die ma.

Sy sê dieselfde diagnose is by twee ander kinders, wat vermoedelik ook by die babasorg seksueel mishandel is, gevind. Een was ten tyde van die voorval onderskeidelik twee jaar oud en die ander meisietjie 14 maande.

Die ma het op Woensdag 9 Maart ’n klagte by die Strand-polisie aangemeld en het intussen bevestig die ma’s van die ander twee kinders het ook hul klagtes saam haar klagte aangemeld.

“Dit is lank ondersoek. Ons moes vier maande lank opvolg en seker maak dat (die polisie) hul werk doen. Ons moes ’n hoër gesag nader sodat die polisie hul werk behoorlik kon doen. Dit was ’n absolute stryd. Die een deel van lewe het daarom gedraai net om die mense te kry om hul werk te doen.”

Sy vertel die ander deel was om na haar dogter om te sien en haar te help om weer normaal te begin leef – iets wat sy steeds nie regkry nie.

“Ons het gedink ons is op die regte pad. Die ondersoekbeampte was by ons huis. Dinge het reg gelyk. Dit het toe van ’n navraag na ’n saak gelei.”

Sy vertel almal was positief dat dinge sou gebeur, maar toe kry hulle ’n oproep van die ondersoekbeampte wat hulle inlig die staatsaanklaer het besluit sy gaan nie die saak vervolg nie.

Die ma het intussen ’n beskermingsbevel teen Joey Cosmo, die eienaar van Liefielyfie-babasorg, verkry.

“Die rede vir die staatsaanklaer se besluit om die saak nie te vervolg nie is omdat my kind te jonk is om in die hof te getuig. My dogtertjie kan presies vir jou vertel wie dit was, sy kan vertel hoeveel keer dit gebeur het en wat gebruik is. Die staatsaanklaer weet wie dit gedoen het, sy weet die babasorg is steeds oop, maar gooi haar arms in die lug,” sê die moedelose ma.

Advokaat Gerrie Nel, die hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het bevestig dat die eenheid by die saak betrokke gaan raak.

“Ons is baie bekommerd oor beskuldigdes wat vervolging vryspring omdat die kinders te jonk is om te getuig. Wat ons betref het dit ’n groot probleem geword,” sê Nel.

Volgens Nel staan hulle die ma by om ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) besonderhede oor die saak by die polisie te kry.

“Dit sal vir ons inligting gee vir ons verdere betrokkenheid by die saak. Dit sal ook die stappe wat ons vorentoe neem, bepaal om te verseker geregtigheid geskied.”

Cosmo het bevestig ’n interdik is teen haar verkry en sê sy kan nie veel oor die saak uitbrei nie.

“Ek vertrou dat AfriForum hul werk reg sal doen en dat die waarheid die lig sal sien. Ek sal my volle samewerking gee,” sluit Cosmo af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article